Raakvat suster by bloeddiens sterf skielik
Sr. Yvonne (Joffie) Nel is Maandag in die hospitaal opgeneem en is Dinsdag oorlede. Voor haar opname was sy op suurstofbehandeling tuis nadat sy die Covid-19 virus opgedoen het.
Sr. Nel het nog tot 13 Julie gewerk by die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens, waar sy die kliniek toesighouer was.
Me. Wentzel vertel dat sr. Nel (néé Cremer) op 12 April 1963 gebore is en in 1988 by die ou Suid-Afrikaanse Bloedoortappingsdiens begin werk het. Van die begin af het sy ’n ongelooflike passie gehad vir mense en om ’n verskil te maak in die lewe van almal wat sy ontmoet het.
“Met haar larger than life persoonlikheid het sy diep spore getrap in die harte van almal wie se paadjies met hare gekruis het.”
Al het sy nooit enige biologiese kinders gehad nie, was sy ’n moederfiguur vir almal gewees.
“Ek was net drie jaar oud toe sy my as driejarige gebabysit het. Sy was my tweede ma,” sê me. Wentzel.
“Daar waar Joffie gegaan het, het die kliphard, uit jou maag lag, haar gevolg en elke dag was ’n avontuur.”
Almal wat haar geken het, het geweet dat sy ook ’n sagte kant gehad het.
“Haar deur was altyd oop vir enigiemand wat net ’n skouer om op te huil nodig gehad het. Die wysheid en die raad wat sy gegee het, het altyd van ’n plek van liefde af gekom.”
Me. Wentzel het lank saam met haar gewerk en onthou hoe sy ’n perfeksionis was op haar werk.
“Sy het baie hoë standaarde gestel vir die mense wat saam met haar gewerk het. Sy het die vermoë gehad om die beste uit elke span te haal wat sy gelei het.”
Sr. Nel se afsterwe het as ’n groot skok gekom vir almal, “maar ons weet dat sy vandag op ’n beter plek is. Haar lag is dalk nou stil, maar ons herinneringe van haar sal vir altyd en ewig ’n glimlag in ons harte bring.”
