Vrese van tweede Vaalrivier: Klein Olifants ’n “toksiese rioolmassa”
Die Klein Olifantsrivier was nog nooit so besoedel soos nou nie.
Www.mobserver.co.za berig al lank oor sporadiese rioollekke in die omgewing van Eastdene waar ’n mangat, wat riool vanaf die industriële gebied na Boskrans vervoer, verstop raak en dan oorloop.
’n Ondraaglike stank hang oor die hele dorp weens die voortslepende probleem. Die water is tans ’n melkerige groen kleur.
Die DA se Helda de Klerk sê dat haar foon warm gebel word deur inwoners wat kla. Sy het self al twee maal amptelike klagtes by die munisipaliteit ingedien, maar tot dusver is geen vinger gelig om die besoedeling te stop nie.
Sy en die DA koukusleier, Johann Dyason, is tans besig met ’n intensiewe ondersoek na waar die lekkasie is.

Dr. Kobus Terblanche wat ’n kampvegter is vir die behoud van die rivier en sy oewers, sê hy is geskok dat die rivier binne ’n kwessie van net dae, “in ’n rivier van riool verander het”.
Hy sê dat die rivierwater die tyd van die jaar, voor die reënseisoen afskop, glashelder moet wees, “het die munisipaiteit nie oë en neuse nie?” vra hy.
Dr. Terblanche het onlangs voorgestel dat die brandweer beheer neem van die rivier en sy openbare uitspan areas, om dit netjies te hou. Die munisipaliteit het hom egter nog nie op sy twee skriftelike versoeke geantwoord nie.
Daar is egter aan www.mobserver.co.za gesê dat die brandweer se taak nie skoonmaak is nie, maar om lewens te red.
Dr. Terblanche het toe maar self die Lilian Ngoyistraat-brug verfraai met blombakke en blomme.
“Die rivier was nog altyd die lewensaar van die dorp, dis skandalig dat die munisipaliteit bloot neus toedruk en die besoedeling laat voortgaan”.
Dr. Terblanche kla boonop die afgelope tien maande oor twee waterlekkasies by die stadion waarby miljoene liters gesuiwerde water uit stroom.
“Ek het bereken dat dit minstens R30 000 se water per maand is wat verlore gaan deur die lekkasies.”

Die munisipaliteit het reeds ’n kontrakteur aangestel om die lekkasie te soek, en ten spyte van talle slote en gate wat reeds gegrawe is, is die lekkasies nog nie opgespoor nie.
Tydens ’n besoek aan die river saam dr. Terblanche vandag, het hy gemerk dat daar nou boonop ’n olielaag ook op die water lê.
“Die rivier is toksies man.”
Daar is aan hom bevestig deur ’n bron van die munisipaliteit dat ingenieurs en watertegnikuste tans by die Eastdene mangat na die oorsprong van die besoedeling soek.
Me. Prudence Magutle, segsvrou van die munisipaliteit, sê dat die probleem aangespreek word met die vervanging van die Eastdene rioolpyplyn om ’n groeiende industriële area te diens.
“Die huidige pyp word vervang met ’n groter pyp en die projek is amper afgehandel,” sê sy.
Sy sê dat die lekkasie wel by die berugte Eastdene mangat is, en dat werkers tans op die terrein is om die besoedeling te probeer hokslaan.
