Baba Milané is gisteraand oorlede
Milané Grobler, die baba wat sedert 15 Augustus teen die Covid-19 virus geveg het, is gisteraand in die intensiewe eenheid van die Life Midmed Hospitaal oorlede.
Duisende mense van regoor Suid-Afrika het vir Milané begin bid sedert haar ma, Adela Malan, op ‘n Facebookblad vir gebede gevra het.
Milané is in ’n spesiaal ingerigte eenheid net vir haar in die intensiewe eenheid behandel.
Adela het ook ’n Facebookblad, ‘Gebede vir Baba Milané Grobler’ begin en daagliks daarop laat weet hoe dit met baba gaan.
Die klein donkerkoppie het in almal se harte ingekruip en daar is tot op die laaste gebid en gehoop dat sy sou oorleef.
Gisteraand laat het Adela dié boodskap op die blad gelaat. “Dankie aan almal, Milané is by Ons Vader. Sy en haar boetie baljaar in God se Koninkryk… Rus sag my prinses. Ons gaan jou mis, tot ons jou weer sien.”
