Gebede gevra vir nog ’n baba met Covid-19
Die gemeenskap word gevra om vir baba Eon Maree (drie maande) te bid, wat gister in die Highveld Mediclinic in Trichardt opgeneem is, met Covid-19.

Die versoek kom nadat Milané Grobler, net ouer as ses weke, Dinsdagaand in die Life Midmed Hospitaal oorlede is. Sy het sedert 15 Augustus in die intensiewe eenheid teen die virus geveg het. Haar begrafnis was vandag.
Vriende van Eon se ouers, Hein en Jeanine Maree, het op die Middelburg Covid Pasiënte Facebookblad gevra vir gebede vir die seuntjie en het www.mobserver.co.za me. Maree gekontak.
Me. Maree is saam met Eon in die hospitaal se Covid-19 eenheid opgeneem. Sy het self ook die virus onder lede.
“Dit was ’n verskriklike paar maande vir ons. Eon het op vier weke bronchiolitis gehad en was 10 dae in die hospitaal. Daarna het my dogtertjie, Chanine, die Covid virus in Desember opgedoen en was sy 10 dae in die hospitaal waar sy baie ernstig siek was.”
Hierdie naweek het die virus weer op die gesin toegeslaan. Mnr. Maree het Saterdag begin siek word en net daarna het me. Maree en ook Chanine simptome gewys.
“Ek en Hein en Eon het positief getoets en Chanine hoes ook. Ek het haar nie ook getoets nie, maar sy het waarskynlik ook die virus.”
Teen gister was Eon so siek dat me. Maree met hom hospitaal toe is en ma en baba is opgeneem.
Me. Maree vra dat almal vir hulle as gesin in gebed sal intree.
•Sy het gemeld dat daar vandag nog ’n baba in dié hospitaal opgeneem is.
•Middelburg pediater, dr. Riekert Swart het vroeg vanoggend ’n skakel op sy Facebookblad gedeel met die woorde: “Covid in children is real” wat ’n Amerikaanse pediater, dr. Diane Arnaout geplaas het. Die skakel is as volg: https://www.facebook.com/DrDianeArnaout/posts/5982741578463447
•Me. Maree het die foto en video aan www.mobserver.co.za verskaf.
