Man in erge pyn na kopstamp met renoster koei
Mnr. Christo Herbst wat Saterdag deur ’n renosterkoei by Ubhetyan o Africa beetgekry is, toe hy die koei gras probeer voer het, is in soveel pyn, dat hy nie tans kans sien om met www.mobserver.co.za te praat oor die voorval nie.

Hy het die koei en haar kalf met ’n hand vol gras tydens ’n rampartytjie op die wildsplaas, genader. Sy ander hand was agter sy rug.
Die koei was aanvanklik rustig, maar toe hy sy arm agter sy rug uithaal, het die koei geskrik en hom met een kopstamp die lug in geskiet.
Hy het sy enkel lelik met die landingslag gebreek en is in die Life Midmed Hospitaal opgeneem.
Die bruidegom, vir wie die partytjie gehou is, was op dié stadium vasgebind, en deur ander gaste met ’n verfbalgeweer bygedam.
Plaaseienaar, mnr. Deon Cornelius, sê beide aktiwiteite was teen Ubhetyan se reëls, en in areas waar gaste nie sonder gidse mag kom nie en wild vryelik loop.
Mnr. Herbst is van eMalahleni.
