Motorfietsryers veg vir uur om meisie se lewe te red
Motorfietsryers van die Wheels in the Sky motorfietsgroep het Vrydagaand vir meer as ’n uur tevergeefs geveg om ’n veertienjarige meisie se lewe te red, wat met ’n tou om haar nek langs ’n boom gevind is.
SA Wheels in the Sky se lede, wat van regoor Suid-Afrika gekom het, het die naweek by Boat & Caravan Club, handeldrywend as Steve’s Place (langs die Witbankdam) uitgespan.
Mnr. Herculaas Taljaard (Wheels in the Sky Middelburg) vertel hoe hy die hele tyd vir ’n pols gevoel het, terwyl twee ander lede van Wheels in the Sky (van Gauteng) Vrydagaand mond-tot-mond-asemhaling en hartmassering gedoen het.
“Hulle het vir ’n uur aangehou tot die paramedikuste by hulle oorgeneem het.”
Mnr. Taljaard sê met sy aankoms op die toneel het die jong meisie reeds langs die boom gelê.
“Hulle het klaar die tou van haar nek afgehaal en begin met noodbehandeling toe ek daar kom. Ek het twee keer gedink ek voel ’n fladdering, maar ek dink sy was reeds dood toe sy gevind is.”
Mnr. Taljaard sê nadat die paramedikus haar dood verklaar het, het die dogter se ma gevra of hulle haar kan help om haar dogter op haar skoot te sit.
“Ek het haar gehelp, sy het afskeid geneem en weggestap.”
Mnr. Steven Barham (eienaar Steve’s Place) sê hulle is nogsteeds in skok oor die meisie se dood by dié gewilde vakansie-oord.
“’n Vriend van die familie kom gereeld hiernatoe en sy vriendin en haar twee dogters het die naweek ook soontoe gekom.”

Mnr. Barham sê sy vriendin, Megan, het die aand toe ’n kar se ligte op die boom skyn, iemand langs die boom in ’n ongemaklike posisie sien sit en dadelik om hulp geroep. Met hul aankoms by die dogter was sy reeds blou, maar die motorfietsryers, het met noodbehandeling begin.
“Terwyl hulle besig was met hartmassering, het ek en Megan gestaan en bid.”
Die volgende dag het mnr. Barhan met die dogter se ma gaan simpatiseer.
“Sy het gesê ons moenie sleg voel nie. Haar dogter het gesterf waar sy graag wou wees. Dit was haar ‘Happy Place’ hier by ons.”
Mnr. Barham noem dat sy seun, Jason (12) ’n rukkie gelede met die dogter uitgegaan het.
“Hy het vir my kom vertel sy sny haarself en dat sy selfmoord wil pleeg.”
Die familie het ook vir hom gesê dat dit nie die eerste keer was wat sy probeer selfmoord pleeg het nie en dat sy onlangs in ’n sentrum vir depressie behandel is.
Die jongmense, waaronder ook sy seun en die meisie, het by die swembaddens gekuier.
Die dogter het gesê sy gaan badkamer toe, maar het nooit weer teruggekeer nie. Teen die tyd wat die ander jongmense bekommerd geraak het, het Megan haar langs die boom gesien.
Mnr. Barham sê dat daar mense was wat riemtelegramme versprei het dat haar dood moontlik moord kon wees.
“Ek het ook gewonder waar het sy die tou gekry om dit te doen.”
Hy is Sondag weer na die toneel en een van die werknemers het vir hom vertel dat die tou reeds daar was.
“Die heining het op ’n stadium omgeval en hulle het die tou gebruik om die heining regop te trek en aan die boom vas te maak. Die dogter het tussen die heining en die boom ingeklim en die tou om haar nek gesit.”
•Mnr. Barham en sy seun is besig om ’n kruis te maak wat hulle in herinnering van die dogter wil opsit.
“Haar familie kom weer die naweek hiernatoe en ons wil vir hulle wys dat ons haar altyd sal onthou.”
•Dié tipe tou (band) word ook gebruik om artikels vas te trek agterop voertuie of trokke.
•Die familie kon nog nie vir kommentaar bereik word nie en daarom word die meisie nie geïdentifiseer nie.
