Transitorowers vlug met Porche Cayenne en BMW
Twee voertuie wat by ’n transitorooftog net buite Bethal betrokke was, het soos mis voor die son verdwyn in die Blinkpan omgewing.
Die transitoroof het Maandagmiddag op die R545 (Bethal/Krielpad) sowat drie kilometer buite Bethal plaasgevind. Volgens ooggetuies het ’n ou model Ford Everest die geldwa op die teerpad van die pad afgedwing. Die Ford het in die proses aan die brand geslaan en uitgebrand.
Die geldwa het probeer om deur die veld te vlug en het in ’n dam tot stilstand gekom, waar rowers die voertuig met plofstof oopgeskiet het om by die kontant uit te kom.
Twee wagte in die geldwa is aangerand maar nie ernstig beseer nie.

Daar was twee voertuie, ’n wit Porche Cayenne en ’n silwer BMW, en ’n geskatte agt rowers betrokke.
Die voertuie het in die rigting van Middelburg gevlug en is deur lede van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum agterna gesit. Hulle is die laaste keer in die Blinkpan omgewing opgemerk.
Sersant Nonhla Mahlangu van die Blinkpan polisie, sê dat die Porche die laaste keer gesien is toe dit verby Komati dorp gery het in die rigting van eMalahleni. Die BMW het in die dorpie verdwyn.
Daar word vermoed dat die rowers dalk ’n basis in die dorp het waar hulle die voertuig vir ’n wyle wegsteek tot die stof gaan lê.
Indien iemand die verdagte voertuie opmerk, kan hulle hul naaste polisiestasie of gemeenskapspolisiëringsforum kontak.
