News

’Daar moet hoop wees’ – motorfietsryer wat meisie se lewe probeer red

Die motorfietsryer wat vir meer as ’n uur probeer het om ’n veertienjarige meisie se lewe te red, sê in al hierdie hartseer wil hy steeds hê dat mense nog hoop moet hê.

“Ek is nie ’n man vir sensasie nie, maar dit druk swaar op my hart dat dit moet uitkom. Daar moet hoop wees. Elke kind, dogtertjie, seuntjie, man of vrou, moet weet, as ’n deur toegemaak is en God maak die nuwe deur oop, hang dit van jou af of jy hom gaan oopmaak. Dit is die beste keuse om te maak vir ’n beter lewe. Dalk word iemand anders se lewe hierdeur gered,” het Ruan Byleveld gesê.

Hy is van Wheels in the Sky East Rand Motorfietsklub en was Vrydagaand die mees opgeleide persoon van die groep wat probeer het om ’n meisie, wat selfmoord gepleeg het by Steve’ Place in eMalahleni, se lewe te red.

Die aand se gebeure is vir altyd in sy geheue vasgeprent.

“Dit voel of ek haar gefaal het, want ek kon nie haar lewe red nie. Sy is baie in my gedagtes. ’n Mens voel so magteloos, want jy hou net aan en aan en daar is nie ’n polsslag nie. Sy was net te swak. Ek sal haar naam nooit vergeet nie.”

Mnr. Byleveld sê hulle het saam gekuier by die kroeg en was op die punt om vleis te braai, toe hy agterkom dat hy die speserye vergeet het. Hy en Rian Calitz (van dieselfde motorfietsgroep) het aangestap om die speserye te gaan haal, toe hulle sien dat daar ’n paar mense op ’n plek saamdrom.

“Toe ek daar kom, het sy nog langs die boom gesit met die tou om haar nek. Ek het dadelik gedink: hoe sit jy en hang jouself. Niks van daardie toneel het sense gemaak nie.”

Hy het die tou om haar nek losgemaak en dadelik begin met mond-tot-mond-asemhaling.

Mnr. Byleveld het vlak vier noodhulpopleiding as deel van die protospan by ’n myn in Gauteng en het outomaties alles gedoen wat hy geleer het.

“In jou kop sê jy die hele tyd: ‘jy kan nie ophou nie! Jy moet haar aan die lewe hou! Hou nog net ’n rukkie aan. Jy gaan dit regkry!”

Nadat hy ’n rukkie besig was, het hy besef hy het hulp nodig en het op ’n tydstip vir die mense in die groep gevra of daar enigiemand is wat ook noodhulp ondervinding het, wat hom kon bystaan.

“Daar was vir ’n oomblik stilte, dit was die skok, maar toe het Adele vorentoe gekom en het sy geblaas as ek moeg geword het.”

Mnr. Byleveld sê hy weet Adele is van Wheels in the Sky Johannesburg, maar het nie haar van gevra nie.

Mnr. Herculaas Taljaard (Middelburg Wheels in the Sky) het van sy kant af kort-kort gevoel of die meisie nog nie ’n pols het nie.

Volgens ooggetuies het mnr. Byleveld vir meer as ’n uur aangehou tot die paramedikuste by hom oorgeneem en sy kort daarna deur hulle dood verklaar is.

“Tyd het nie saak gemaak nie. Ek wou haar net aan die lewe probeer kry.”

Hy besef dat sy dalk reeds dood was, toe hy begin het met mond-tot-mond-asemhaling. “Haar lyfie was egter nog warm toe ek begin het en ek kon net nie ophou nie. Ek het geglo sy gaan dit maak.”

Nadat die meisie dood verklaar is, het mnr. Byleveld na die ma toe gestap en vir hulle, die ma, haar vriend en die meisie se sussie, gebid.

•Hy het genoem dat al die lede die volgende dag tydens die SA Wheels in the Sky se klubvergadering opgestaan en hul koppe vir ’n paar oomblikke in stilte gebuig het in herinnering aan die meisie.

Back to top button