News

Virus eis legendariese suster Ina

Suster Ina Niemann (52), die vrou wat haar hele lewe gewy het aan haar gesin en Middelburg se pasiënte, is gistermiddag weens nagevolge van die Covid-19 virus in die intensiewe eenheid van die Life Midmed Hospitaal oorlede.

“Ek het vir haar gebid en gesê: ‘Here, ek sit haar voor U voete neer,’ en die Here se seën oor haar uitgespreek. Daarna is ek net uit die hospitaal uit om my foon aan te sit en vir ’n paar mense te sê dat hulle vir haar moet bid en ons het saam: ‘Here, laat U wil geskied,’ gebid. Kort daarna het die suster my gebel en gesê dis verby,” het haar man, Corrie, vanoggend gesê.

Mnr. Niemann sê hul kinders het vroeg in Augustus die virus gehad en hy en sy het eers negatief getoets. Later het hy positief getoets en op 23 Augustus het sr. Niemann positief getoets.

“Sy het haarself elke dag getoets om seker te maak sy is negatief, omdat sy so baie pasiënte elke dag by hul huise sien.”

Op 24 Augustus is sy opgeneem, waarna sy ’n dag later na die intensiewe eenheid geskuif is en nog ’n dag later aan ’n ventilator gekoppel is.

Mnr. Niemann onthou hoe hy en sy seun, Jaun-Pierre (17), voor sy geskuif is na die intensiewe eenheid, nog saam vir haar gebid het.

“Sy was lus vir sjokolade en hulle het toegelaat dat Jaun-Pierre dit vir haar bring.”

Haar skielike agteruitgang en dood gisteroggend kom as ’n skok vir mnr. Niemann.

“Dit het eintlik die hele tyd goed gegaan met haar. Ek het nog op ons WhatsApp gebedsgroepe gespog hoe goed dit gaan en dat sy so sterk is soos ’n ratel en so hard teen die siekte veg.”

Gisteroggend omstreeks 04:30 het die hospitaal laat weet dat haar toestand skielik deur die nag agteruit begin gaan het.

Mnr. Niemann het trots vertel hoe hard sy gewerk het by hul Inca Health Clinic, wat sy vanaf hul huis bedryf het. Die paartjie was mede-eienaars van die besigheid en die naam van die kliniek kom van ’n samevoeging van hul twee se name.

Hy sê dat sy sowat 80 pasiënte tans tuis gehelp het met onder meer masjiene en ander noodsaaklikhede tuis wat siek was weens die gevolge van die virus.

“Dit was nie haar enigste pasiënte nie. Daar was ook ander pasiënte was sy tuis versorg het soos om te help met aarvoeding en ander mediese dienste. Een gesin help sy al nege jaar, elke dag, met tuisversorging!”

Mnr. Niemann sê sy vrou was welbekend by die Life Midmed Hospitaal, waar sy vir jare by die kraamsaal en ook in die intensiewe eenheid, gewerk het. Later was sy by Lancet (“wat sy op Middelburg begin het”) en ook by die Toga Bloedbank.

As tuisversorgingsuster het sy deur die jare diep in almal se harte gekruip. “Sy was áltyd beskikbaar vir hulle.”

Me. Niemann was ook betrokke by Discovery Lewensversekering.

Mnr. Niemann en sy kinders onthou haar as ’n toegewyde mens “wat nie afgewyk het van die waarheid af nie.

Sy was doelgerig, spontaan, netjies en ’n perfeksionis op alles wat sy aangepak het. Sy het altyd tyd gemaak vir haar gesin. Haar passie was om mense te genees en te help.

Sy het dit tot die einde toe uitgeleef. Selfs op die dag wat sy met die ambulans hier weggevat is, het sy gesê sy kan nie, want sy kan nie haar pasiënte in die steek laat nie.”

Jaun-Pierre het bygevoeg: “Mamma was altyd daar vir ons.”

Me. Niemann word oorleef deur haar eggenoot Corrie, kinders Jaun-Pierre en Carli (14), ma Babsie Hoffman, broers Pieter en Hennie en suster Dorothea Fourie.

Die begrafnis is Woensdag uit die Hervormde Kerk, Noord gemeente. Mnr. Niemann sê die voorlopige tyd is 11:00. Die diens sal virtueel op die kerk se Facebookblad gevolg kan word.

 
Back to top button