Prokureur vang dief
’n Prokureur het Donderdag in die vroeë oggendure heen en weer gehardloop om ’n dief agter ’n sentrum vas te keer en te vang.
Mnr. Jaco Kruger, wat maar slegs ’n week terug is in die tuig as prokureur in Middelburg, vertel dat hy die booswig in die lug beetgekry het toe hy oor ’n hek wou spring.
Mnr. Kruger is omstreeks 03:30 gewek deur ’n gekap in die omgewing van sy huis in Groekol. Hy het ’n flits gegryp en eers in sy erf rondgeskyn. Daarna is hy na buite waar hy in die rigting van die gekap geloop het.
By die Cafe 101 sentrum het hy duidelik die gekap gehoor en agter die sentrum met sy flits in gelig, waar hy dadelik ’n man gesien het wat besig is om ’n gasbottel en ’n kruideniersmandjie vol goed op te tel.

Hy het sy flits in die man se gesig geskyn en geskree: ‘stop!’, maar die man het hom geïgnoreer en na die ander kant geloop.
Mnr. Kruger die polisie gebel en af gehardloop na John Magagulastraat se kant toe om die man aan daardie kant te blok om nie oor die muur uit te kom nie. Die boef se mus het aan die lemmetjiesdraad vasgehaak toe hy probeer oorklim, waarop hy omgespring en na die ander kant gehardloop het.
Mnr. Kruger moes weer noodgedwonge omhardloop Limpopostraat se kant toe. Teen hierdie tyd was die polisie op die toneel aangekom.
Die dief het steeds kat en muis met hulle gespeel en hulle moes heen en weer hardloop. Die oomblik toe die boef sy kans waarneem om oor die hek te spring, was mnr. Kruger reg vir hom en het hom platgeduik.
“Hy het hom misgis met my. Ek was nie verniet ’n goeie 400m en 800m atleet op my dag nie!” het hy laggend gesê.

Daar is bloed op die gasbottel en van die gesteelde artikels gekry. Mnr. Kruger sê hy vermoed die dief het sy hande gesny toe hy oor die lemmetjiesdraad geklim het.
Hulle het later die plekke gekry waar daar aan die agterkant van die sentrum by stoorkamers ingebreek is.
•Die afgelope tyd was daar verskeie misdaadvoorvalle by dié sentrum. Daar is ingebreek by Derika Hondesalon en die kasregister, met net R8 daarin, is gesteel.
Daar is ook by die motorhuise ingebreek waar daar ’n karbattery gesteel is en daar ook probeer is om ’n Toyota Venture te steel.
•Vusi Rakgalakana het Donderdag in die hof verskyn op ’n klagte van besit van vermoedelik gesteelde eiendom, poging tot inbraak en verontagsaming van die aandklokreël.
