News

Motorfietsdiewe het huis dopgehou

Jy kan deesdae nie eers jou rug draai om te eet nie, dan word jy besteel.

’n Man is waarskynlik dopgehou en sy BMW motorfiets blitsig gesteel, toe hy by sy huis in is om te eet.

Mnr. Pieter van der Linde sê hy was Woensdagaand besig in sy motorhuis in Boekenhoutstraat (Kanonkop, Middelburg), toe sy driejarige seuntjie hom kort voor 19:00 kom roep het vir aandete.

Hy was nog besig om aan sy voertuig te werk en het die motorhuis toegetrek.

Sy plan was om die voorste skuifhek se slotte en die motorhuis te sluit wanneer hy klaar geëet het. Met sy terugkeer het hy nie dadelik opgelet die motorfiets is weg nie.

“Ek het die lig afgesit en op dieselfde oomblik het my oog gevang dat die motorfiets nie daar is nie en dadelik die lig weer aangesit.”

Mnr. Van der Linde het in sy voertuig gespring en die hele Kanonkop en Dennesig plat gery. Hy het ook by die dammetjies tussen Kanonkop en Dennesig gaan soek, maar die motorfiets is skoonveld.

Hy sê dat dit nie sy motorfiets was nie, maar sy swaer, mnr. David Rheeder se BMW motorfiets, waaraan hy klein herstelwerk gedoen het.

Mnr. Van der Linde sê hy glo ’n silwer VW Golf, wat die afgelope tyd op en af in hul straat gery en kort-kort voor huise gestop het, het iets te doen met die diefstal.

•Dit is die tweede keer in drie jaar dat ’n motorfiets van hom gesteel word. Die vorige keer is sy motorfiets in Totiusstraat (Gholfsig) gesteel. Dié motorfiets is nooit teruggevind nie.

“Mens wonder nou of die motorfietssindikaat nou weer terug is!” As enige persoon die motorfiets iewers sien, bel mnr. Rheeder by 083 407 9514.

•Dit is ’n wit BMW 1000 RR, registrasienommer CY58381.

Back to top button