News

Nege weke oue baba en ousus veg tuis teen virus

’n Nege weke oue baba en haar ousus veg tuis saam met hul mamma teen die Covid-19 virus.

Me. Marissa Pretorius, klein Elliana (nege weke) en Juan-Marié (5), is op die Tuis Pasiënte gebedelys van die Middelburg Covid Pasiënte Facebookblad. Me. Pretorius se man, Henno, het negatief getoets, maar hy isoleer tans tuis saam met sy vrou en kinders.

Mnr. Pretorius vertel dat hulle Donderdag groot geskrik het toe Elliana skielik baie minder gedrink het en sy vrou is saam met haar die aand in die Life Midmed Hospitaal opgeneem.

Nadat Elliana aarvoeding gekry het, is sy en haar ma Vrydag ontslaan, aangesien sy baie beter gelyk het.

Me. Marissa Pretorius met hul dogtertjie, Juan-Marie (5). Beide het ook die virus.

Op daardie tydstip het Juan-Marié ook begin hoes en het die Covid-19 toetse gewys dat me. Pretorius en haar dogters positief vir die virus getoets het.

Mnr. Pretorius sê alhoewel hulle baie groot geskrik het, lyk Elliana heelwat beter en “krap haar borsie net nog en hoes sy ’n bietjie. Sy drink ook heelwat beter.” Juan-Marié het ook nog ’n hardnekkige kuggie.

“Die dokter is gelukkig met hul, veral Elliana, se vordering, maar sê dat ons hulle fyn moet dophou vir enige ander veranderinge.”

Buiten hoofpyn en moegheid, voel me. Pretorius ook heelwat beter.

Mnr. Pretorius vertel dat beide hy en sy vrou ’n maand gelede die virus gehad het.

“Dit is dus nou die tweede keer in ’n maand dat ek moet isoleer.”

Hy sê dat hy en sy vrou toe baie siek was en hy sowat twee weke nadat hy reeds uit isolasie was, só siek geword het met longprobleme, dat hy na die hospitaal se ongevalle eenheid moes gaan vir behandeling.

“Mense moenie dink dat as hulle die virus gehad het, dat hulle dit nie weer kan kry nie!”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button