News

Parke raak broeiende put van ongurigheid

Inwoners voel al hoe meer vasgekeer tussen hulle vier mure, terwyl dit rof gaan in die dorp se parke oor naweke, waar ontlasting, gesuipery, bestuur onder die invloed en stoornis, die tendens geraak het.

Susca le Roux, van Aerorand, vertel hoe sy ses jaar terug, nadat hulle Middelburg toe verhuis het, opgemerk het hoe die Klein Olifantsrivier naby Kees Taljaard Stadion, oor naweke en vakansiedae in ’n varkhok ontaard.

Hulle het juis ten duurste betaal vir eiendom langs Aerorand se ruswaters in die hoop vir ’n bietjie rus en vrede.

Susca sê dat dit nou in Aerorand die selfde gaan as langs die Klein Olifants, en dat hulle eiendomswaarde daal, terwyl parke ’n trekpleister geword het vir ongurige karakters.

Die park by Athlonedam word gereeld gevandaliseer en bemors en die probleem is aangemeld deur DA raadslid, Hennie Niemann. Daar is al vanaf 2015 daaroor berig.

Susca vertel dat kinders wat gereeld by die damme gaan visvang, nie meer gebruik kan maak van hulle parke nie, omdat dit te onveilig geraak het. Sy sê dat daar op hulle gemeenskapsgroep genoem is dat inbrake by huise wat grens aan die dam, geweldig toegeneem het.

Nog ’n Aerorand inwoner, wat anoniem wil bly, vertel dat hulle uit Kanonkop gevlug het, nadat vakansiedae en naweke vir hulle ondraaglik geraak het, maar dat dit nou die selfde gaan in Aerorand.

Www.mobserver.co.za het ’n medianavraag gerig aan die munisipaliteit, waar gevra is waarom polisiëring nie opgeskerp word nie.

Daar is ook gevra vir kommentaar waarom die munisipale wetstoepassing nie beskikbaar is wanneer inwoners hulle skakel om gevalle aan te meld nie, op die einste nommers wat deur die munisipaliteit verskaf word.

Geen kommentaar is ontvang nie.

Back to top button