Wat maak die dooie hoenders aan die heining?
Liewe hoenders! Wat maak die hoenders aan die heining?

Dooie hoenders aan die buitekant van die Roberts Landgoed se heining hou die diewe weg!
“Dit is ’n goeie afskrikmiddel én dit werk. Ek het nog nie weer stukke van die heining vervang nie,” het mnr. Dawie Roberts (ontwikkelaar) vanoggend gesê.
Talle inwoners het www.mobserver.co.za gebel en gesê dat die dooie hoenders “al ’n paar dae aan die Mandela Rylaan kant van die landgoed” hang. Gebruik hulle dalk ‘Black Magic?’’ is gevra.
Mnr. Roberts sê tong-in-die-kies dat “wat ookal die hoenders vir wie ookal beteken, dit werk!”
Hy was die afgelope tyd moedeloos, want nie net is die ysterpale van die heining bykans elke dag gesteel nie, maar het die diewe lang stukke van die buitenste wildsheining ook begin steel.
“Daar is stukke van tot 30m heining op ’n slag gesteel en dit het my elke keer by die R35 000 gekos om die heining te vervang en aan arbeid. Wat dink jy sal gebeur as van ons bokke uitkom en ’n ongeluk veroorsaak?”
Mnr. Roberts het op die idee gekom om dooie hoenders, wat hy by ’n hoenderboer gekry het, op te hang.
“Ek het meestal hoenders opgehang, maar op ’n paar plekke het ek ook hoenderkoppe -en pote opgehang.”
Hy maak staat daarop dat die diewe bygelowig is en nie die heining sal steel terwyl die hoenders daar hang nie.
•Riemtelegramme wat die rondte doen dat daar ingebreek is by die landgoed en dit daarom gedoen is, is volgens mnr. Roberts onwaar.
“Dit is net om te keer dat hulle die heining verder steel.” 
