Pa boet oor erg verwaarloosde kinders
Bewusteloos, siek van geelsug en tussen hondeontlasting, is ’n baba seuntjie in ’n huis op Middelburg gekry, wat later die “gruwelhuis” gedoop is.
Die sesdae oue babaseuntjie, sy tienmaande oue bababoetie en hul sewejarige sussie, is deur die welsyn “weens walglike omstandighede” uit die sorg van hul ouers en ouma verwyder.
Die ma is in Desember 2017 lewenslank tronk toe gestuur, nadat sy skuldig gepleit het op klagtes van verkragting en kindermishandeling.
Die sewejarige moes, nadat sy uit haar ouerhuis verwyder is, steeds doek dra, omdat sy haarself onbeheers bevuil het. Die dogtertjie was nooit op skool nie en sy kon ook nie sinvol kommunikeer nie.
Sy het gereeld net suiker op brood gekry om te eet, terwyl haar ouers aan wegneemetes gesmul het.

Die pasgebore baba, en sy boetie, is met hondehare in sy mond en neusholtes gevind. In sy boetie se vuil doek, met dae oue ontlasting, was daar bosluise en vlooie.
Die gruwelhuis-pa is verlede week in die streekhof, op vyf klagtes van kindermishandeling en seksuele aanranding skuldig bevind.
Na vier jaar as verhoorafwagtende in die gevangenis, is die pa kort nadat hy alle beskuldigings as blatante leuens teen hom afgemaak het, ’n verdere tien jaar gevangenisstraf deur landdros Andreas Masteroudes opgelê.
Hy is tot vyf jaar op drie klagtes van kindermishandeling, en vyf jaar op twee klagtes van seksuele aanranding, gevonnis. Die klagtes is vir vonnisoplegging saamgevoeg.
Die ma het teen haar man getuig en vertel dat sy hom op een geleentheid op die dogtertjie, met sy hand op haar mond, en oop broeksgulp, betrap het. Op ’n ander geleentheid het sy gesien hoe hy die meisie betas.
Verkragting kon egter nie in die pa se geval bewys word nie.
Hulle is steeds getroud.