News

Gekaapte dieseltenker onder treinbrug gekry

’n Dieseltenker wat gisteraand op ’n myngrondpad tussen Hendrina en Carolina gekaap is, is vanoggend teruggekry, net buite Middelburg op die ou Belfastpad onder die treinbrug teen die Klein Olifantsrivier.

Die eienaar van die dieseltenker (wat verkies om anoniem te bly) is ’n kontrakteur vir die myn en hy sê hulle het die hele nag na die dieseltenker gesoek. Hyself het die trok net na 07:00 langs die rivier gevind.

Die trokbestuurder het omstreeks 21:00 by die sekuriteit aangestap gekom en gesê dat hy gekaap is.

Kapers het uit die lang gras voor die trok, wat baie stadig op die myn moet ry, ingespring met wapens. Hulle het die trokdrywer uit die trok forseer, aan ’n draad vasgemaak en met die trok weggery.

Teen 22:00 het sowat 10 voertuie, wat ’n span van die kontrakteurs en die sekuriteit uitgemaak het, byeen gekom en die trok se spore gevolg. Hulle het die laaste keer in die nag die trokspore gevind op ’n grondpad naby Arnot Kragstasie en daar is besluit om in die rigting van Middelburg te soek.

“Daar is na al die noodgroepe in die Ermelo, Hendrina, Carolina en Middelburg omgewing noodroepe uitgestuur om te sê dat hulle op die uitkyk moet wees vir die trok. Hy is nie in die rigting van Ermelo opgemerk nie en ons het besluit om Middelburg se paaie te fynkam.” Daar is ’n paadjie langs die bruggie oor die Klein Olifantsrivier op die ou Belfastpad en die eienaar van die tenker het daar gaan soek, waar hy die trok opgespoor het.

Hy sê dat hy duidelike voertuigspore van ’n klein voertuig voor die trok gevind het, wat ’n aanduiding is dat die kapers daar opgelaai is. Buiten die diesel wat gesteel is, vermis hulle ook die twee trokbatterye en die trok se nommerplate.

“Hulle het die nommerplate afgehaal, want ons het die registrasienommer op die noodgroepe deurgegee.”

Op hierdie stadium kan hulle nog nie bepaal presies hoeveel diesel gesteel is nie, aangesien hy nog nie die register wat sy drywer hou, onder oë gehad het nie.

“Hy beweeg tussen die putte op die myn waar voertuie met diesel opgevul word en dit word op die register aangeteken. Die polisie is nog besig om te kyk vir vingerafdrukke en doen nog hul ondersoek. Ons sal eers later die register kan nagaan om te sien hoeveel diesel hy al gistesraand getap het, voor ons kan weet hoeveel gesteel is.”

•Die trokdrywer is na die kaping huistoe gestuur, omdat hy erg aan skok gely het.

“Ons sal ook eers weet watter wapens hulle gebruik het en of daar ’n ander voertuig betrokke was, wanneer ons met hom kan praat. Hy is gelukkig nie ernstig beseer nie.”

Die trokdrywer werk al meer as agt jaar vir die maatskappy.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button