Vrou met pyp oor kop geslaan voor huis
’n Vrou is gisteraand in die donker voor haar huis, met ’n pyp oor die kop geslaan.
Nadia Urquhart (31) ly steeds aan skok na die gebeure by haar ouerhuis in Harry Gwalastraat (Dennesig).
“Ek het nie sy gesig gesien nie, net die hand wat my met iets, wat soos ’n pyp gelyk het, teen die kop in die donker geslaan het. Ek kon ook sien hy is lank, want ek het om hom gehardloop, om in die huis te kom.”
Sy en haar ma, Heila, was saam met haar dogtertjie alleen tuis, want hul mans het uitroepe gehad. Nadia het Maandagaand ’n ligte hartaanval gehad, nadat sy onlangs die Covid-19 virus opgedoen het en me.
Groenewald het vir haar gesê om haar dogtertjie sommer daar by haar te bad, sodat sy kan help. Nadia het besluit om net eers hul woonstel se houtdeur te gaan sluit, omdat net die veiligheidshek van die woonstel gesluit was.
Sy het omgeloop na die woonstel, die kombuislig aangesit en teruggestap na die voordeur, wat nog oopgestaan het.
By die hoek van die muur het alles binne sekondes gebeur. ’n Hand het uit die donker met die pyp voor haar opgeskiet en haar teen die kop getref. Sy het opgemerk dat hy die pyp weer oplig om haar te slaan, maar sy het blitsig by hom verby gehardloop en by die voordeur ingevlug, terwyl sy die paniekknoppie druk.
“Nadia het met haar bebloede gesig by die huis ingestorm en ek was só geskok dat ek eers wou weghardloop. Ons het gou die deur toegedruk en gesluit.”
Mid-Alarms was binne minute by die huis en het vasgestel dat die voorste hek effens oopgeskuif staan, waar die booswig dit oopgestoot het. Me. Groenewald sê sy dink haar dogter se aanvaller was waarskynlik reeds in die erf toe Nadia uit is na die woonstel.
Naby die hoek van die huis is ’n boom en hulle vermoed hy het agter die boom geskuil toe sy uitkom. Alhoewel die boom nie baie groot is nie, sou Nadia hom nie in die donker kon sien as hy daar gestaan het nie.
“Ons dink hy wou dalk inbreek en het haar sien uitkom en besluit om haar aan te val. Hy het natuurlik gedink sy gaan val van die geweldige hou, maar Nadia het kop gehou en aangehou hardloop.”
Reaksielede van Mid Alarms het die area gefynkam, maar die booswig het die nag in verdwyn.
•Nadia het omstreeks 23:00 erg begin opgooi en die vermoede bestaan dat sy moontlik ligte harsingskuddig opgedoen het. Sy het nie steke nodig gehad nie en is nie hospitaal toe nie, maar het erge hoofpyn en ligsensitiwiteit oorgehou.
Hulle het aangedui dat hulle die dokter sal gaan sien om seker te maak sy het niks van die hou teen haar kop oorgehou nie.
