Bergman sindikaat slaan toe op Kempton Park
Die Bergman Transport sindikaat het weer toegeslaan, hierdie keer in Kempton Park.
Die sindikaat, wat besighede om die bos lei deur vals bewys van betalings deur te stuur, in ruil vir goedere, het oor die jare verskeie Middelburg besighede geteiken. Van vleis tot motorfietse en grassnyers is so gesteel.
Dit is egter nie net Middelburg wat deurloop onder hul skelmstreke nie. Nadat daar die eerste keer oor die “gawe oom Koos Bergman” berig is, het verskeie besighede in Gauteng, Limpopo, Noordwes en die res van Mpumalanga deurgeloop.
Die nuutste slagoffer is ’n brandstofverskaffer in Kempton Park. Johan van Rensburg sê dat hy baie kliënte het wat kleiner hoeveelhede diesel bestel wat bestem is vir masjinerie by padwerke of kontrakteurswerk.
Toe “Rudi Grobler van Liebentrans” hom bel, nogal met ’n verwysing van mnr. Van Rensburg se grootmaat verskaffer, het hy nie onraad vermoed nie. Rudi het 8 000 liter diesel bestel en gesê dat hy nie soveel geld het nie en sy ‘grootbaas’ van Bergman Transport sal die rekening vereffen.
Mnr. Van Rensburg sê dat hy Donderdag die heeldag uit die kantoor was. Met sy terugkeer het hy die bewys van betaling gesien en agter gekom dit is vervals, maar dit was te laat, omdat sy drywer reeds die helfte van die bestelling gaan aflewer het.
Die bestelling is in Watloo, Pretoria, waar daar glo aan die pad gewerk is, afgelewer.
Mnr. Van Rensburg sê dat hulle beduie is tot by ’n plek waar daar aan die pad gewerk word en dat ’n trok met houers daar gestaan en wag het. Die manier van aflewering is glad nie snaaks wanneer daar kleiner hoeveelhede verkoop word nie, sê mnr. Van Rensburg.
Mnr. Van Rensburg is met sowat R60 000 ingedoen.
Hy kon by Absa en Nedbank vasstel dat die betalingsbewys vervals is.
Daar is reeds ’n saak by die polisie geopen.
’n Lid van die sindikaat is ’n paar jaar gelede in Bela-Bela gevonnis tot vyf jaar gevangenisstraf of ’n boete, nadat op en wakker polisielede daar, een van die sindikaatlede tot in Pretoria gevolg en gearresteer het.
Buiten vir dié sukses, blyk dit dat polisie elders nog geen hond haar-af kon maak teen die sindikaat nie.
Daar kon vasgestel word dat Liebentrans ’n telefoonnommer en faksnommer het wat beide net skynnommers is. Die maatskappy se addres is in Germiston, maar dit blyk ook ’n vals adres te wees.
Bergman Transport het ook ’n adres en telefoonnommer. Daar is destyds vasgestel dat die addres en telefoonnommer vals is.
Gevaartekens om voor uit te kyk:
• Gawe Afrikaanssprekende persoon.
• Kennis van jou besigheid – hoe dit lyk, of ken iemand wat jy ken.
• Betaling word altyd van ‘n ander bank as jou eie bank gedoen.
• Gebruik buite persoon om goedere by jou te kom oplaai.
• Aflewerings word nooit by ’n geregistreerde besigheidsperseel gedoen nie en daar is altyd ‘n goeie rede hoekom dit langs die pad of elders ontvang moet word.
