Polisieman wat gekaap is: ‘Ek voel soos Chuck Norris’
Die polisieman wat Maandagmiddag gekaap, met ’n mes gesteek en geskiet is, het uit sy hospitaalbed gesê hy voel soos ‘Chuck Norris’ met almal wat so omgee vir hom.

“Dit was my beurt, maar nie my tyd nie,” het kapt. Johan Grobler (Duikpunt Bevelvoerder, Nkangala Streek) Dinsdagoggend gesê.
Hy is nog in die Cosmos Hospitaal en kon daarom nog nie ’n verklaring aflê nie en kan nie oor die fyn detail van die aanval praat nie.
Die kapers het hom beveel om na ’n bos by Vosman te ry. Wat hy wel kon sê is dat die plek waar hy in sy linker bobeen geskiet is, nie toegewerk kon word nie en dat die projektiel nog in sy been is.
“Die ortopeed sê die patroon gaan nie nou uitgehaal kan word nie, want dit is tussen senuwees en ’n hoofslagaar.”
Hy is van die pad se kant af geskiet deur die been en een van die drie kapers het hom later ook in die rug gesteek.
“Hy het drie keer gesteek, voordat die ou tipe Okapimes deur my sterk jaghemp gegaan het. Die sny in my hemp is twee sentimeter en die snymerk in my rug is vier sentimeter. ”
Die meswond is met steke geheg. Alhoewel daar gesê is dat hy met ’n panga op die oor gekap is, is hy gelukkig met die platkant geslaan en het nie steke nodig gehad nie.
“Die panga het my brilraam getref.”
Sy hande is blou soos hy met sy aanvallers “vir lewe en dood gestoei het.”
Hy kan onthou dat een van die kapers gesê het dat hulle hom moet doodmaak en nadat hy die warm bloed teen sy rug voel afloop het, het hy met hulle begin veg en op ’n manier uit die kar gekry.
“Ek het een ding geweet en dit is as ek nie nou iets doen nie, gaan ek doodgaan.”
Die kapers het op hom losgebrand, maar hy het met pap wiele aangehou ry. Hy kon net sy privaat foon in die kar opspoor en het die dokter se spreekkamers gebel, wat die polisie en ambulansdienste ontbied het.
“Ek het gery tot in eMalahleni, waar die ambulans my gekry en ek vandaar af Cosmos toe geneem is.”
•Hy het dankie gesê vir almal se belangstelling.