News

Vrou beweer seksorgies, moord, verkragting en mensehandel

Bewerings met skermgrepe van “bewyse” van pedofielgroepe, vrouens wat ontvoer word, seksorgies en selfs moord, word op ’n byna daaglikse basis op Mariska Heunis se blog en ander sosiale media geplaas.

Nou is die polisie en die mense vir wie sy beskuldig van al hierdie gruweldade op haar spoor en daar is selfs bewerings van ’n lasbrief uit vir haar arrestasie.

Maar wie is Mariska Magdalena Heunis en steek daar enige waarheid in al haar beskuldigings?

Is sy in Middelburg vir besit van dwelms gearresteer of nie, of is sy dalk in die buiteland soos sy te kenne gee?

Www.mobserver.co.za het verlede week vir die eerste keer bewus geword van Heunis toe ’n man, wat homself ’n prokureur noem, ’n joernalis gebel en uitgevra het of ons oor haar geskryf het in die laaste vier maande.

Volgens hom het ’n Middelburger hulle gekontak en gesê dat hulle ’n foto van Heunis in die Middelburg Observer gesien het. Sy is “gearresteer vir ’n klagte van dwelmbesit en het in die hof verskyn.”

Ons het die inligting nagegaan en dit is onwaar. Sy het ook nie in die hof op Middelburg verskyn nie. ’

n Plakkaat word rondgestuur, wat sê dat Heunis ’n gesoekte persoon is in Brixton op ’n 2020 saaknommer. By navraag aan die mediakantoor op Brixton (Gauteng) is gesê dat hulle Maandag ’n antwoord kan gee oor die saak.

’n Betroubare bron het egter gesê dat dit ’n naamskendingsaak is en dat dit verlede jaar Julie in die hof afgehandel is. Daar is in die hof bepaal dat dit ’n siviele saak is en verder siviel hanteer moet word.

Die mediakantoor op Brackendowns (Gauteng) het bevestig dat Heunis by hulle aangekla is saam met ander persone “vir die onwettige besit van ’n vuurwapen.” Hulle kon egter nie bevestig of sy verlede maand opgedaag het by die hof en of daar wel ’n lasbrief vir inhegtenisname is nie.

Intussen is daar ’n boodskap vir die joernalis gestuur dat “die polisie en die Valke regdeur die land na Heunis soek,” maar dit kon tot op hede nie bevestig word nie.

Cathy Mitchell, ’n eienaar van ’n paar kleuterskole in Gauteng, sê sy “sal nie rus voordat Heunis opgespoor is nie. Sy het ons lewens verwoes met al haar valse beskuldigings. En sy sal moet boet vir alles wat sy kwytgeraak het.”

Op Heunis se blog is daar WhatsApp skermgrepe waar persone haar kontak om meisies te kry as gesellinne na verskeie geleenthede.

Mitchell sê Heunis was ’n paar jaar gelede ’n “ontkleedanseres” en hulle het met haar te doen gekry, toe hulle haar as bestuurder by hul nagklub aangestel het.

Maar hier het die mallemeule van probleme begin.

“Die Valke, Kinderbeskermingseenhede, noem die eenheid, hulle almal het my verskeie kere ondersoek weens haar bewerings en hulle kon niks kry nie. Dit was vir hulle ’n groot irritasie, want hulle het gesê hulle het groter sake wat hulle aandag moet geniet en dan moet hulle hul tyd mors met so iemand wat wilde aantygings maak.”

Mitchell vertel dat Heunis al sedert 2019 bewerings van verkragting, moord, mensehandel en self pedoefielgroepe maak.

“Ons het haar nooit afbetaal nadat sy een aand saam met ’n ander man in ’n malle dwelm-aand gearresteer is nie. Ons het haar toe steeds gehelp.”

Hulle het haar selfs gehelp om na ’n kliniek te gaan vir behandeling, “maar sy het vir die kliniek ’n e-pos gestuur waarin sy die dokter se kwalifikasies in twyfel getrek het. Later het sy vir ons gesê dat hy deel is van die mensehandelgroepe!”

Mitchell sê hulle het die afgelope twee jaar met die hulp van die polisie en ondersoekers bewys dat ál Heunis se bewerings onwaar is. Op haar Instagram het sy elke persoon wat kwansuis vermoor of deel was van mensehandel, laat opspoor en hul eie kommentaar oor die gebeure, opgesit.

“Dit is alles leuens, leuens! Ek weet nie wat probeer sy daarmee bereik nie. Sy was ’n rukkie stil, maar het nou weer begin. Ek is ’n ouma van vier kleinkinders en jy kan net dink wat haar stories oor my, my man en al die ander mense wat sy in haar blog noem, al aan ons familie en ander families gedoen het.”

Sy het aangedui dat hulle besig is met nog sake teen Heunis en dat die ondersoek binne die afsienbare tyd afgehandel sal wees.

“Nou moet ons haar net opspoor dat sy kan pa staan vir haar wilde aantygings.”

•Heunis het in haar blog ook gesê dat daar verskeie meisies, wat drome gehad het om as modelle raakgesien te word, ontvoer is en in vraghouers verskeep is na ander lande.

Daar is van die meisies se name genoem. Een van die meisies wie se naam genoem is, is Ashley Briel. Briel is opgespoor en het in ’n video, wat sy aan Mitchell verskaf het, gesê dat sy moeg is vir Heunis se irrasionele bewerings.

Sy meld dat Mariska in 2019 gesê het dat sy as deel van ’n mensehandel-groep verskeep is na China. “En hier is ek. Ons makeer niks, ek is verloof en en is 23 weke swanger!”

•Alhoewel Heunis op haar blog aandui dat sy in die buiteland is, bestaan die vermoede dat sy in Suid-Afrika is. Enige persoon wat weet waar Heunis haar bevind, word gevra om André van Wyk (privaat ondersoeker) te bel by 083 743 4786.

Www.mobserver.co.za het vir Heunis al verlede week privaat boodskappe via Facebook gelaat, maar sy het tot op hede nie daarop gereageer nie.

Back to top button