‘Toe ek omkyk, het ek gesien my dogtertjie is dood’
’n Voertuig wat van voor af in hul baan oorgeswaai het, het die lewe gesteel van die vyfjarige Amé Janse van Rensburg.
“Toe ek omkyk, het ek besef Amé is dood,” het haar pa, Phillip, vanoggend deur rou snikke deur vertel.
Die ongeluk het gistermiddag kort voor 12:00 op die R555 (ou Middelburg/Witbankpad), net buite Middelburg gebeur. Hulle was in die rigting van Middelburg onderweg toe die ongeluk gebeur het.
“Ons het ingery dorp toe om ons kruideniersware vir die week te gaan koop en goedjies vir die kinders se kosblikkies.”
Mnr. Janse van Rensburg sê die volgende oomblik het ’n aankomende voertuig oorgeswaai in hul baan in.
“Ek moes uitswaai, anders het ek hom reg van voor getref.” Sy Toyota Hilux bakkie het die pad verlaat en gerol.
Hy het dadelik begin rondkyk of sy vrou, Nadia, hul tweejarige seuntjie, Flippie en Amé enige beserings opgedoen het.
“Flippie het gehuil en ek het omgekyk. Ek kon sien Amé is weg.”
Met ER24 se aankoms op die toneel, is Amé dood verklaar en die res van die gesin per ambulans na die Life Midmed Hospitaal geneem.
Mnr. Janse van Rensburg en Flippie het nie beserings opgedoen nie, maar me. Janse van Rensburg het haar linker bo-arm gebreek. Sy sal vandag ’n operasie ondergaan.
“Amé’tjie het in alles net die mooi gesien. Sy het my hele lewe verander die dag toe sy gebore is. Sy was my alles,” het mnr. Janse van Rensburg gesê.
Sy vriend, Wynand Louw, sê gister by die hospitaal was daar talle ‘hoekom’-vrae van Amé se ouers, “soos enige ouer sal vra as ’n kind gesterf het. Hulle is egter diep gelowig en vind berusting daarin dat hul dogtertjie by Jesus is.”
Mnr. Janse van Rensburg se pa, Tjaart Badenhorst, onthou dat Phillip hom net na 12:00 “emosioneel gebel en van die ongeluk vertel het. Ons ou Amé’tjie is weg. Sy het so ’n mooi geaardheid gehad.”
•’n Ooggetuie van die ongeluk het gesien dat die voertuig wat die ongeluk veroorsaak het, wegjaag. Hy het hom agterna gesit, van die pad af gedwing en later aan die polisie oorhandig.
Mnr. Janse van Rensburg het gesien dat die polisie die persoon arresteer.
•Sers. Nonhlanhla Mdluli het bevestig dat ’n verdagte na die ongeluk gearresteer is. Hy sal vandag in die hof verskyn. Klagtes van dronk- en roekeloos nalatige bestuur word op hierdie stadium ondersoek.
