News

’n Ouma se pyn nadat “ligstraal kleindogter” in ongeluk sterf

As jou vyfjarige kleinkind sterf, dra jy nie net die pyn as grootouer nie, maar ook die pyn van jou kind se hartseer.

So sê me. Edith Badenhorst wat steeds nie kan glo haar “ligstraal kleindogter”, Amé Janse van Rensburg, is dood nie.

Amé het Sondag kort voor 12:00 in ’n ongeluk op die R555 (ou Middelburg/Witbankpad) net buite Middelburg gesterf. Die Toyota Hilux waarin sy, haar boetie Flippie, en ouers Phillip en Nadia, gery het, het omgeslaan.

Amé het in haar karstoeltjie gesterf en haar ma is na die Life Midmed Hospitaal geneem met ’n gebreekte arm. Mnr. Janse van Rensburg en Flippie is nie beseer nie.

“Ek ervaar fisiese pyn in my hart. Dit voel of ek wil doodgaan van hartseer,” het me. Badenhorst gesê. Sy is Phillip se ma en dit breek haar hart dat haar kinders so swaar moet kry.

Amé en Flippie (toe hulle heelwat kleinker was) saam met oupagrootjie Lukas en oumagrootjie Maggie.

“Hoe troos jy jou kinders as jou eie hart in duisend stukke is.”

Me. Badenhorst sê haar seun was buite homself van hartseer na die ongeluk en het na die man gestap wat die ongeluk veroorsaak het en vir hom gesê: “Jy weet jy het my kind doodgemaak!”

Hy het kalm geraak toe die polisielede met hom praat. “Niks wat hy vir daardie man sou sê, sou of sal Amé kan terugbring nie.”

Sy onthou hoe gelukkig die gesinnetjie was en hoe erg die egpaar oor hul kinders was.

“Op hul tiende huweliksherdenking op 17 September het Phillip en Nadia eerder afstandbeheerde karretjies vir hul kinders gekoop, as om vir hulle self iets te kry.”

Amé en Flippie saam met oupa en ouma Carl en Amor King.

As sy dink aan Amé, onthou sy hoe ’n saggeaarde, opgewekte dogtertjie sy was.

“Eenkeer in die wildtuin het sy gehuil toe sy ’n dooie skilpad langs die pad gesien het.”

Amé was die eerste kleinkind aan beide families se kant en me. Badenhorst sê sy het van kleins af in almal se harte gekruip.

“Sy het so ’n ander, spesiale plekkie in ons almal se harte gehad. Daardie gemis is verskriklik. Ons ken nie die Here se weë nie, maar ons weet sy is reguit hemel toe.”

Amé word oorleef deur haar ouers, Phillip en Nadia, boetie Flippie, peetouers Judith en Gerard Keyper, grootouers Tjaart en Edith Badenhorst, Carl en Amor King, oupagrootjie Lukas en oumagrootjies Joekie, Maggie en Joey.

Amé en Flippie saam met oumagrootjie, Joekie, en hul pa, Phillip.

Me. Janse van Rensburg sal waarskynlik vandag uit die hospitaal ontslaan word en sal daar dan eers begin kan word met begrafnisreëlings.

•Me. Badenhorst wil graag namens Phillip en Nadia almal bedank wat op die toneel gehelp het.

•Die man en vrou wat eerste gestop, hulp verleen en almal kalm gehou het.

•Die twee polisiemanne van die polisie se honde-eenheid, adj. André van Strÿp en adj. Francois (Grobbie) Grobler. “Hulle het ons almal met soveel deernis behandel en selfs vir ons koeldrank gegee.”

Flippie en Amé saam met Judith Keyper, wat hulle tannie “Joefie” genoem het.

•Past. Callie Joubert vir sy omgee en ondersteuning op die toneel.

•Die paramedici van ER24 wat Nadia, Phillip en Flippie hospitaal toe geneem het.

•Mnr. Theo Rabie (eerste provinsiale inspekteur, Provinsiale Verkeerbeheer) wat vanaf die weegbrug soontoe gejaag en op die toneel bystand verleen het.

•Die man wat agter die persoon wat die ongeluk veroorsaak het, aangejaag en teruggebring het na die toneel.

Back to top button