Polisieman wat geskiet is, sterk tuis aan
Kaptein Johan (Grobbie) Grobler, wat verlede Maandag deur kapers in die been geskiet en in die rug gesteek is met ’n mes, sterk tuis aan.
In ’n WhatsApp groep wat hy vir kollegas, familie en vriende gestig het, het hy Vrydag laat weet dat hy uit die Cosmos Hospitaal ontslaan is en tuis aansterk.
Kapt. Grobler (Duikpunt Bevelvoerder, Nkangala Streek) het vir lewe en dood teen sy kapers in ’n bos in Vosman geveg en weggejaag, terwyl daar op hom geskiet word.
Hy het met pap bande voortgejaag tot in eMalahleni, waar die polisie en ’n ambulans hom ingewag en hy hospitaal toe geneem is.
Die projektiel kon aanvanklik nie verwyder word nie, aangesien dit op ’n gevaarlike plek gesit het. Later verlede week het die projektiel egter geskuif en dit kon veilig uitgehaal word.
In sy boodskap het hy elke persoon bedank wat hom ondersteun het sedert die voorval deur middel van oproepe en boodskappe.
“Sonder julle ondersteuning, sou ek dit nie gemaak het nie. Elke oproep, boodskap, navraag en grappie word hoog op prys gestel!”
