News

Hondjie vasgedruk en in kop geskiet

’n Vriendelike Yorki wat weggedwaal het vanaf sy huis, is Maandagmiddag vasgedruk en in die kop geskiet.

“Ons het ’n goeie idee wie dit is, want hierdie persoon skiet voëls en katte in ons omgewing. Ek gaan dit nie hier los nie!” het ’n omgekrapte Johan Duvenage gesê.

Sy Yorkshire Terriër, Charlie, het op een of ander manier uitgekom vanaf sy huis op die hoek van Hoog- en Kogelstraat (Groenkol).

Hy het oral rondgery om die hondjie te soek en ook die hulp van die Sektor Drie Noodroep Radiogroep ingeroep. Hulle het dit op hul groepe rondgestuur en daar is ook plakkate oral opgesit.

Laatmiddag het Johan ’n oproep gekry dat daar ’n hondjie dood op ’n sypaadjie in Framestraat lê.

“Charlie het nog nooit so ver geloop nie en ek wonder of hy nie gejaag is tot daar en toe doodgeskiet is nie.”

Die hond is in die kroontjie geskiet, wat vir hom ’n duidelike aanduiding is dat die persoon bo-oor die hond gestaan, hom vasgedruk, die wapen teen die hond se kop gedruk en geskiet het.

“Hier is al ’n ruk ’n jong persoon in ons area wat trigger happy is. As hy so maklik katte, voëls en honde kan skiet, wanneer skiet hy per ongeluk ’n kind raak? In hierdie geval moet ons sommer sy pa arresteer, want hoe laat hy dit toe?”

Johan het reeds ’n saak by die polisie geopen. ’n Veearts gaan die projektiel uit die hond se kop verwyder, sodat hulle presies kan sien watter wapen gebruik is.

“Dit is beslis ’n groter wapen as ’n windbuks.”

Sy hart was baie seer oor sy hondjie “wat ons oë en ore by die huis was. Charlie het altyd so skewebek vir my gelag as ek met hom gepraat het. Wintersmaande het hy voor die kaggel op die bank gelê. As jy ’n probleem met my hond gehad het, kontak my net. Hoekom hom summier net doodskiet op ’n sypaadjie?”

•Volgens wet mag jy nie in ’n beboude gebied skiet nie.

•Mnr. Duvenage is ’n raadslid vir die Vryheidsfront in die Steve Tshwete Munisipaliteit.

Back to top button