‘Besondere pa’ word skielik siek en sterf
Carel van Heerden (65), die man wat sy gesin altyd eerste gestel en diep spore in die gemeenskap getrap het, is Sondag na ’n kort siekbed in die Life Midmed Hospitaal oorlede.
“My pa was ’n gesonde man en het net skielik siek geword,” het sy dogter, Rivonia du Plessis, vanoggend gesê.
Hulle moes die hartseer besluit neem om Sondag die masjiene af te skakel waar hy in die intensiewe eenheid behandel is, nadat sy organe ingegee het.
“My pa het binne drie minute gesterf.”
Rivonia sê hulle is dankbaar dat sy en haar ma, Delene, die geleentheid gehad het om tot op die einde by hom te wees.

Hulle het hom drie weke gelede ongevalle toe geneem, met erge maagpyn. Nadat daar vir hom medikasie gegee is, is hy ontslaan.
Vier dae later was die pyn ondraaglik en is hy in die hospitaal opgeneem, waarna hy kort daarna na die intensiewe eenheid geskuif is. Alle toetse vir die Covid-19 virus was negatief en is daar is later bepaal dat hy pankreatitis onder lede het.
Die twee weke wat hy in die hospitaal behandel is, was ’n moeilike tyd vir die gesin. Mnr. Van Heerden se seun, Callie, kon nie van Australië af ’n vlug kry om sy pa en familie by te staan nie. Tydens besoektye het hulle dan oproepe gemaak en die telefoon teen mnr. Van Heerden se oor gehou, sodat Callie met hom kon gesels.
“My pa het so hard baklei teen die siekte vir ons. Ek kan nie glo hy is dood nie. Dit voel of hy net iewers is en op pad terug is.”

Mnr. Van Heerden het sy hele lewe in Middelburg gebly en was vir 10 jaar vennoot van Mpumalanga Crane Services tot hy in 2017 afgetree het.
Rivonia onthou dat haar pa nooit ’n slegte woord van iemand wou hoor nie.
“Hy het ons altyd geleer dat as jy nie iets goed van iemand kan sê nie, dan moet jy liewer niks sê nie. Hy was ’n wonderlike man vir ons ma en ’n besondere pa vir ons kinders. Hy was my hero.”
Mnr. Van Heerden word oorleef deur sy vrou, Delene, kinders Callie en Rivonia, skoonkinders Yolandi en Wikus en kleinkinders Jake, Kenzo en Ethan.
•Die familie wil graag die Life Midmed Hospitaal bedank, wat hulle toegelaat het om mnr. Van Heerden te besoek. Besondere dank gaan aan dr. Zelda Henning vir haar hulp, belangstelling en empatie.
•Die begrafnis is more (1 Oktober) om 14:00 uit die NG Kerk, Dennesig gemeente. Dit kan per zoom gevolg word. Die skakel sal vanaf 13:30 beskikbaar wees om in te skakel.
Join Zoom Meeting: https://us06web.zoom.us/j/84313839562?pwd=bm1WUjhpeGcxOWJkTG52SjVJWHd1QT09
Meeting ID: 843 1383 9562.
Passcode: 076082.
