News

Bloedhond Bolhuis wil hondskieter vasvat

Die befaamde privaatspeurder, Mike Bolhuis, wil die persoon wat Charlie, die vriendelike Yorkshire Terriër in die kop geskiet het, aan die pen laat ry.

“Dit is niks anders is erge dieremishandeling nie! Die hondjie is summier tereggestel! Daardie hondjie was nie ’n gevaar vir mense of selfs die Indian Minor wat daar naby rondvlieg nie! Ek is daardie persoon wat opstaan vir diere en ons eenheid teen dierewreedheid sal hierdie saak pro bono hanteer. Ek gaan daardie ou opf..k!” het Bolhuis vanmiddag uitgevaar.

Bolhuis het www.mobserver.co.za genader, nadat hy die berig gesien het van Johan Duvenage se hondjie wat Maandagmiddag doodgeskiet is.

Charlie het die oggend uitgekom vanaf Johan se huis op die hoek van Hoog- en Kogelstraat (Middelburg, Mpumalanga). Later die dag het iemand die hondjie dood op ’n sypaadjie in Framestraat gekry. Na aanleiding van hoe die hondjie gekry is, lyk dit of hy vasgedruk en bokant die kroontjie in die kop geskiet is.

Charlie snoesig onder sy kombersie in die Wintertyd. Dié vriendelike Yorki is Maandagmiddag op ’n sypaadjie doodgeskiet. Die persoon wat hom geskiet het, het hom waarskynlik vasgedruk, die wapen teen sy kop gedruk en hom geskiet.

Johan het gesê dat hy ’n goeie idee het wie dit is, aangesien daar ’n jong man is wat rondloop en voëls en katte in die omgewing skiet.

Hy het die hond na ’n veearts geneem sodat die projektiel uitgehaal kon word. Hy het egter netnou gesê dat die skoot regdeur die hond se kop is.

Bolhuis is smoorkwaad en het dit duidelik gestel dat dit eerstens onwettig is om in ’n beboude gebied te skiet en dat dit ’n gevaar vir mens en dier inhou.

“My magtag, hoekom sal jy so iets wil doen? Hy het ‘man’s best friend’ in die publiek geskiet. Die nadeel is dat so ’n misdaad wéér gaan gebeur. Hy gaan dit meer en weer doen. Waar gaan dit dan eindig.”

Bolhuis sê as dit wel ’n jong man is wat die diere en voëls skiet, “moet sy ouers verantwoordelik gehou word vir sy dade.”

Hy vra enige persoon wat gesien het hoe die hondjie geskiet word of enige ander inligting het, om hom persoonlik te bel by 082 447 6116.

“Alle inligting sal privaat hanteer word.”

•Johan sê hy waardeer die belangstelling in die saak, aangesien hy dit “beslis ook nie hier gaan los nie!”

Back to top button