G@tvol – inwoners onderneem om dorp self skoon te maak
Die voortslepende staking van munisipale werkers het inwoners genoop om sake in eie hande te neem.
Me. Marinda van Zyl het ’n Maak Middelburg Skoon WhatsAppgroep begin.
Die doel van die groep is om organisasies, besighede, veiligheids- en gemeenskapsgroepe te betrek, sodat noodsaaklike dienste soos vullisverwydering kan aangaan te midde van die stakings.
Me. Van Zyl het gesê dit is duidelik dat die munisipaliteit nie beheer kan neem van die onluste nie, en dat die probleem nie gou opgelos gaan word nie. Sy sê dat inwoners tans alleen staan want “terwyl die dorp op sy kop gedraai word, spog politieke partye met plakkate op lamppale.”
Daar word gevra dat mense met bakkies, sleepwaens of trokke, wat kan help met die wegry van vullis, haar moet kontak.
“Daar is selfs voorstelle gemaak dat die vullis op die munisipaliteit se stoep gestort moet word.”
Indien iemand belangstel om aan te sluit by me. Van Zyl se inisiatief, kan hulle haar kontak by 063 057 0996.
