Vlamme verswelg plaas, toe slaan hael res flenters
Net vyf weke nadat ’n verwoestede brand die grootste deel van ’n boer se plaas tussen Hendrina en Carolina vernietig het, het ’n haelstorm gister sy vrugteboord platgeslaan en van sy lammers laat verkluim.

“Daar is niks oor nie. In 50 jaar het ek nog nooit so iets gesien nie! Daar het 100m reën in ’n klein rukkie geval en die hael het 350mm dik gelê. Dit het gelyk soos sneeu,” het mnr. Jan de Wet moedeloos gesê.
Hulle moes magteloos in die huis sit “omdat hael so groot soos duifeiers afgekom het. Die kinders het op die dakke probeer klim om die hael af te stoot, maar dit was net te erg. Ons kon later nie eers die deure oopmaak nie, weens die hael en moes net kyk hoe alles weggeslaan word.”
Mnr. De Wet sê alvier die huise op die plaas was gister onder water nadat die storm kort na 17:00 begin het. Die hael het die sinke op die dakke losgetrek en die water laat deurstroom.
“Daar was aanvanklik net so hier en daar ’n haelkorrel, maar kort daarna het die donderstorm losgebars.”
Boonop het die krag afgegaan en hulle moes in die donker rondhardloop om na die storm te kyk of van hul vee beseer is.
“Ons het by gasverwarmers die lammers probeer red. Ons kon 10 red, maar vyf het verkluim. Gisteraand laat het ek by Eskom gepleit om uit te kom en vir hulle verduidelik dat ons in die donker die lammers se lewens probeer red by gasverwarmers. Na 22:00 het ons darem krag gehad.”
Eers vanoggend kon hulle die presiese omvang van die skade bekyk. Met die brand vyf weke terug waar meer as 4 000ha van die boere in die omgewing se plase verwoes is, het hy ook 105ha weiding, perde en ’n paar lammers verloor.
“Ons het met die brand geveg dat die vlamme nie by my vyf hektaar vrugteboord uitkom nie. Dit is al wat ons gehad het. Nou is dit ook weggeslaan.”
Mnr. De Wet se stem breek as hy dink aan wat hulle by die vrugteboord gekry het.
“Dit lyk soos in die winter in die boord. Die bome is kaal. Daar is nie ’n pluim, perske of appelkoos oor nie. Perskes so groot soos my voorste duimnael lê alles op die grond. Ons sou Desember begin oes het. Ons sal nie een vrug kan oes nie.”
Hy is dankbaar dat hul hoenders en volstruise skuiling teen die storm kon kry. Die volstruise moes egter die 33 eiers waarop hulle gebroei het in die veld, net so los om weg te hardloop.
Weens die hael se gewig, het die store se dakke ook ineen gestort.
Mnr. De Wet sê die hele 2021 was vir hulle “nog net ’n opdraende stryd. In Februarie het ek die Covid-19 virus gehad en was baie siek. In April het my bakkie se enjin gegroet en moes ek hom vervang. In Augustus het ek meer as R20 000 betaal vir veeartse om my hond, Diesel, wat vir my soos ’n kind was, se lewe te probeer red. Hy het egter op 13 Augustus gevrek. Op 24 Augustus het die vuur die weiding kom vat. Nou het die hael byna alles verwoes.”
Hy sê dat die voermeel wat vir hulle geskenk is vir die diere na die brand, ook nat geword het en dat hulle hoop om van dit te kan red. Met sy oë gerig na Bo, glo hy hulle sal weer kan opstaan, maar hy weet dit sal nie maklik wees nie.
•Mnr. De Wet het grootgeword op Middelburg en talle inwoners en ander sakelui in die omgewing het op 24 Augustus met die brand, wat oor talle plase gespring het, gaan help. 
