Gee vir parkeerjoggies swepe
’n Inwoner van Sabie wat voor die Middelburg Poskantoor beroof is, weier om weer sake in die Sentrale Sakegebied te doen.
Me. Trudie Linde-Badenhorst is weerskante van haar arms beetgekry en haar hand om haar selfoon losgedwing. Dit was jong aanvallers en sy onthou dat hulle nie eers maskers gedra het nie.
Niemand het haar te hulp gesnel nie, alhoewel daar talle mense in die omgewing was. Dit het haar laat besef dat hierdie straatrowers al almal, veral die pakeerjoggies, só geïntimideer het, dat hulle bang is om enigiemand te help.
Sy glo al manier hoe die Sentrale Sakegebied in Middelburg weer misdaadvry kan wees, is as die straatrowers en ander misdadigers verjaag word deur daadwerklik op te tree.
Me. Linde-Badenhorst het ’n paar idees gegee wat sy glo ’n verskil sal maak.
•“In Rustenburg het die parkeerjoggies swepe waarmee hulle straatrowers verjaag. Hoekom nie by julle ook nie?”
•“As die polisie nie wil help nie, daag sekuriteitsfirmas uit om op ’n rotasiebasis die hele tyd sigbaar te wees in die sakegebied en die rowers te vang.”
•“Laat almal die koerant bel wat daar beroof is, sodat ’n databasis saamgestel kan word, waarmee die polisie gekonfronteer kan word.”
•“Elke besigheid moet ’n alarm hê wat kliphard kan afgaan as daar misdaad plaasvind. Sodra die besighede dan die alarm hoor, moet almal by hul deure uitgaan en die misdadigers intimideer. Daar sal ook niks van jou afval om ’n dief wat verby hardloop, te pootjie nie!”
•“Begin ’n sekuriteitsgroep, soos ’n WhatsApp groep, tussen die sakelui in die sakegebied, sodat almal presies kan weet as daar iets gebeur het.”
•“Tree daadwerklik op teen hulle! Dink uit die boks uit. Gooi die kat in die hoenderhok en kyk wat gebeur. Julle het niks om te verloor nie!”
