News

Gestry hoe lank reuse swartmamba is

Middelburger Johann Hattingh het Saterdagmiddag ’n reuse swartmamba in Snymanstraat by die The Rest Woongebied in Nelspruit afgeneem.

Johan sê hy kry skoon hoendervleis, want net vroeër dieselfde oggend het hy en sy kleinseun Juvan (19), op presies dieselfde plek gestap. Hy en sy vrou, Christelle, het die naweek by sy seun, Jaco (oud-Middelburger), skoondogter, Felitia en kleinseun Juvan op Nelspruit gaan kuier.

Saterdagoggend het Johann met klein Juvan gaan stap, waarna die groep na ’n parkie toe is met Juvan. Met hul terugkeer, sowat 80m vanaf die ingang van die kompleks waar Jaco-hulle bly, het die slang uitgestrek in die pad gelê.

Johann het sy selfoon op kamera gesit om die slang in die pad af te neem, maar die slang was te vinnig en het blitsig in die veld in, parallel met die bakkie, geseil.

“Hy het wegkruipplek onder klippe gesoek, maar hy was te lank en sy stert het nog uitgesteek. Dit was ’n groot bul gewees!”

’n Foto van Google Maps wat aandui waar Johann Hattingh die mamba in Snymanstraat in die The Rest Woongebied in Nelspruit (Mbombela) afgeneem het.

Dit was vir hom ’n ongelooflike ervaring om dié dodelike giftige slang in die natuur te sien. “‘n Mens sien hulle gewoonlik net in slangkaste of op televisie.”

•Johan het sy video op die “Snakes of Southern Africa” se Facebookblad geplaas en daar was ’n hele debat oor hoe lank die slang kan wees. Die algemene gevoel is dat die swartmamba tussen twee en ’n half en drie meter lank kan wees.

•In November verlede jaar het ’n tweemeter lange swartmamba vir konsternasie by die Springbokkafee (Kanonkop) gesorg toe hy tussen die hondekos op die stoep sy kop uitgesteek het.

Lees meer: Swartmamba en skyfies, ag ek bedoel vis en skyfies asseblief!

Rassie Erasmus het met die hulp van ’n ander kliënt die slang aan die stert beetgekry, hom oor die parkeerarea gesleep en tussen plante op die sypaadjie gelos.

Mnr. Victor Boshoff (voorsitter, Middelburg Herpetologiese Vereniging) en twee ander lede van die herpetologiese vereniging, Darren (sy seun) en Donovan Drennen, het die slang kort daarna tussen die plante uitgehaal.

Back to top button