Skuldig – Malinga erken dat hy ma voor haar tienerdogter dood gery het
Khumbulani Malinga is oomblikke gelede skuldig bevind op ’n klag van strafbare manslag in die streekhof, waar sy verhoor vandag sou afskop.
Hy het in ’n dramatiese wending skuldig gepleit op die hoofklag, terwyl ’n tweede klag van bestuur onder die invloed van alkolhol, teen hom laat vaar is. Terwyl sy pleitverduideliking voorgelees is, het rou snikke deur die hofsaal weergalm.
Me. Marie Hamman, wie se dogter in die grusame ongeluk gesterf het, was ontroosbaar.
Malinga het erken dat hy op 23 Maart 2019, “nalatig en verkeerdelik” die dood van me. Liezel Visagie veroorsaak het toe hy me. Visagie voor haar tienerdogter in die kruising van Lilian Ngoyi- en Cowen Ntulistraat, getref het.

Hy het erken dat hy die betrokke Saterdagmore bo die spoedperk in een van Middelburg se besigste strate gery het, maar nie vir me. Visagie of haar dogter in die kruising opgemerk het, toe die lig vir hom rooi was nie.
“Ek het oor die rooilig gery, teen ’n spoed hoër as die spoedperk,” het hy in ’n voorbereide verklaring gesê, voor ’n verdere erkenning dat hy “geen geldige verweer” vir sy dade het nie.
Hy is deur landdros Andreas Masteroudes skuldig bevind.
Die saak is na 15 November uitgestel vir ’n korrektiewetoesigverslag om saamgestel te word voor vonnisoplegging. Volgens Malinga is hy die enigste broodwinner vir sy agt minderjarige kinders.

Me. Hamman, het toe Malinga op waarskuwing laat gaan is gesnik: “Hy kan na sy kinders toe teruggaan, ek het niemand.”
Sy sal op 15 November ’n spreekbeurt in die hof gegun word om te vertel wat se verlammende impak haar dogter se dood, en haar kleindogter se gevolglike verhuising na haar pa in Nieu Seeland, op haar gehad het.
Me. Visagie en haar dogter was juis op pad na Clicks toe om me. Hamman se chroniese medikasie vir haar te gaan haal.
Me. Visagie het as held gesterf, deur haar tienerdogter net betyds uit die pad te stamp, voordat sy getref is.
Een van haar bene is in die botsing met Malinga se swart BMW afgeruk en op ’n nabye karhandelaar se verkoopsvloer opgetel. Haar ander been is ook verguis.
Sy het haar op die toneel doodgebloei, terwyl omstanders Malinga, wat van die toneel af wou vlug, moes platduik.
Daar het eers ’n wending in die saak gekom nadat Afriforum se privaat vervolgingseenheid onder leiding van advokaat Gerrie Nel, betrokke geraak het.

