Vrou beweer sy moes oorsee vlug na ‘dreigemente‘
Mariska Heunis, die vrou wat op haar blog en ander sosiale media soos Facebook bewerings maak, hou vol dit wat sy sê is die waarheid.
Heunis het in ’n e-pos aan www.mobserver.co.za gesê dat sy bereid is om ’n poligraaftoets te laat doen, om te wys dat sy die waarheid praat.
Sy sê dat sy ook “bewyse van die polisiestasie het dat ek nooit in besit was van ’n vuurwapen en dwelms nie! Daar is nie ’n lasbrief uit vir my nie en die ‘Wanted’ plakkaat is ’n fake.”
In haar eerste e-pos het sy gesê dat sy Cathy Mitchell en haar man gaan hof toe vat. “Ek lieg nie, God as my witness. Cathy en Mark gaan hulle stories moet reg hê wanneer hulle hof toe moet kom.”
In haar tweede e-pos Donderdag skryf Heunis die volgende:
“Ek bly in die UK… hoe gaan julle my kant van die storie kan vertel terwyl daai gevaarlike mense nog asemhaal? “Die reporters wat hulle nie betaal nie word gedreig. “Ek weet.
“Mark en Cathy het my gegroom. “Hulle het my alles vertel en gewys wat hulle doen, want hulle wou my ontvoer die 23ste Augustus 2019. Hulle het nie gedink dat ek ooit sou wegkom van hulle af nie.
“Ek was gedreig gewees op my vlug na Kaapstad toe met verkragting en torture en moes twee nagte op die lughawe slaap want die Crusaders (volgens haar blog ’n motorfietsgroep) was orals.
“Ek het die 25ste Augustus 2019 terug Johannesburg toe gevlieg, waar ek toe dadelik Zambië toe gevlieg het, want alle direkte vlugte was vir vyf dae lank skielik op al die vliegtuie uitgeboek gewees UK toe. “Van Zambië is ek UK toe en het nooit weer ’n voet in Suid-Afrika gesit nie. “Ek moes alles net so los en met ’n klein sakkie vol klere vlug.
“Mark en Cathy het my opgespoor twee maande nadat ek hier opgedaag het. “Hulle was in Skotland toe hulle my weer by ’n nuwe blyplek opgespoor het. “Hulle het my so baie kere probeer vat die laaste twee jaar, maar ek bly wegkom voor hulle ’n move maak.
“Ek het baie Crusaders en bekende gesigte gesien wat ons agtervolg en dopgehou het. “Ek en my man moes 17 keer getrek het in twee jaar. Hulle het my bly opspoor met my selfoonnommers.
“Hulle lieg as hulle sê hulle weet nie waar ek is nie. “Hulle kon my net nog niks aandoen in twee jaar nie want die UK beskerm victims soos ek teen human trafficking syndicates soos hulle.”
•Www.mobserver.co.za het navraag gedoen by Brackendowns en by die Brixton polisie se mediakantore. Beide het bevestig dat daar nie enige lasbriewe vir arrestasie vir Heunis uit is nie. Hulle het ook gesê dat dit nie die polisie is wat die “Wanted” plakkaat uitgestuur het nie.
•Op Brackendowns is daar ’n oop saak van onwettige besit van ’n wapen teen Heunis en twee ander beskuldigdes.
•Op Brixton is daar ’n naamskendingsaak geopen teen Heunis. Dit is die saaknommer op die plakkaat, maar sy is nie ’n gesoekte persoon op die saak nie.
Lees Cathy Mitchell se kommentaar hier: Cathy soek Mariska se bloed