Kabelfout los kompleks lank sonder krag
Inwoners van ’n kompleks in Roggeveldstraat (Aerorand) het vanoggend hul dankbaarheid uitgespreek nadat hulle sedert Donderdag kort-kort sonder krag was.
Gistermiddag het hulle gekla dat hulle op daardie stadium alweer 17 uur sonder krag was.
Talle mense het gemeld dat dié wat nie kragopwekkers het nie, duisende rande aan bederfbare kos verloor het.
Almal het egter vanoggend hul dankbaarheid uitgespreek teenoor rdl. Hennie Niemann wat sedert Donderdag af alles probeer het om die probleem aan te spreek.
Rdl. Niemann het laat gistermiddag self na www.mobserver.co.za gekom en verduidelik dat ’n elektriese kabel Donderdag raakgekap is en nat geword het met die reën. Van daar af het die een na die ander kabelfout gevolg en is die hulp van kontrakteurs ingeroep.
Daar was ook verskeie kabellaste met probleme wat bygedra het tot die krisis.
Hy sê dat die kontrakteurs tot 02:00 vanoggend gewerk het om te verseker dat die kragprobleem opgelos word.
