Man wat ongeluk veroorsaak nog nie aangekla
Die man wat beskuldig word dat hy op 26 September die ongeluk veroorsaak het waarin die vyfjarige Amé Janse van Rensburg gesterf het, is steeds nie aangekla nie.
Amé het gesterf nadat die Toyota Hilux bakkie waarin hulle gery, gerol het op die R555 (ou Middelburg/Witbankpad).
Volgens haar pa, Phillip, het hy uitgeswaai vir ’n voertuig wat vanaf die aankomende verkeer reguit in hul baan ingeswenk het. Hy het uitgeswaai, waarop die bakkie gerol en in ’n sloot op sy linkerkant te lande gekom het.
Amé het in haar karstoeltjie agter haar ma, Nadia, gesit. Me. Janse van Rensburg het haar linker bo-arm in die ongeluk gebreek. Mnr. Janse van Rensburg en hul seuntjie, Flippie (twee jaar en nege maande) het nie beserings opgedoen nie.
Die persoon wat voor hul ingeswaai het, het weggejaag vanaf die ongelukstoneel. Kort daarna het ’n ooggetuie van die ongeluk die voertuig agterna gesit en terug gebring waar na die toneel, waar die polisie hom gearresteer het.
Sers. Nonhlanhla Mdluli (mediakantoor) het gistermiddag weer bevestig dat die persoon nog nie in die hof verskyn het nie, omdat die polisie nog besig is met hul ondersoek.
Klagtes van dronk- en roekeloos nalatige bestuur word ondersoek. Daar sal later bepaal kan word of hy aangekla sal word as die bloeduitslae ontvang is.
Nadat dié ondersoek afgehandel is, sal die dossier hof toe geneem word vir ’n aanklaer om te bepaal of die man ook vir strafbare manslag aangekla gaan word.
•Die bestuurder van die voertuig se naam kan nie bekend gemaak word nie, omdat hy nog nie in die hof verskyn het nie.
