Charles is tuis!
Daar word so baie berig oor Covid-19 sterftes. Hierdie is nie een van daai berigte nie. Hierdie is ’n storie van hoop en liefde en die krag van gebed en vriendskap.
Charles Botha, ’n boer uit die Stoffberg omgewing, is Woensdag, 6 Oktober, uit die Midstream Mediclinic ontslaan. Hy het 30 dae gelede positief getoets vir Covid-19.

Op 13 September is hy in die Life Midmed Hospitaal opgeneem. Sy toestand het teen 17 September drasties versleg en sy vrou, Nadine, het daarna gereël dat hy na Midstream oorgeplaas word waar hy deur die bekende dr. Emmanuel Taban behandel is.
Op sy kritiekste het vriende en familie ’n boodskap op sosiale media versprei “Bid vir Charles Botha”. Al die gebede het gewerk! Charles is een van die gelukkiges.

“Hy is God se wonderwerk! Charles het ’n baie kragtige storie om te vertel,” het Nadine gesê.
Hy kon die hospitaal Woensdag vaarwel roep en terugkeer na sy plaas, waar sy geliefdes hom letterlik langs die pad ingewag het.

Vandat Charles by die Midstream Mediclinic weggery het, tot hy weer sy plaas Klipspruit binne gery het, was daar oral spatsels geel. Spatsels wat vertel van ’n nuwe begin, want geel is die kleur van hoop, van nuwe lewe en ’n optimistiese toekoms.
By die hospitaal se ingang het vriende hom met balonne gegroet. In Middelburg het lede van die 1313 MAC Middelburg motorfietsklub hom ingewag en hom deur die dorp vergesel.

By Klipspruit se hek het vriende hul voertuie langs die pad getrek en vir hom erewag gestaan met geel balonne en rose.

Een ding wat Woensdag keer op keer duidelik was, is dat Charles geliefd is, en dat die wat vir hom lief is, sy tuiskoms saam met hom vier. Sy vrou, Nadine, het haar man staande gehou.

Sy het daagliks, terwyl hy in die Midstream Mediclinic was, voor sy venster gesit en bid.

Charles en Nadine bedank almal wat hulle op een of ander manier bygestaan het.
Die egpaar sê dat hulle alle eer aan hul Skepper wil gee.
•In ’n emosionele video op Facebook kan mens hoor hoe sy hom moed inpraat toe hy nog in die hoësorg eenheid was. En hoe hy sy hand oplig om vir haar te wys hy hoor haar.
