Waar is BMW wat Rocky raakgery het?
Die bestuurder van ’n silwer BMW wat verlede Saterdag (2 Oktober) ’n man raakgery en net weggejaag het, is steeds soek.
Rocky van der Nest (42) is omstreeks 20:00 in Keiskammastraat raakgery en het die volgende oggend gesterf.
Die BMW het kort voor die ongeluk ’n rukkie by die Engen Vulstasie gestop en dwars naby die pad gestop. Kort daarna het hy uitgery by die vulstasie en so byna daar reeds ’n ongeluk veroorsaak, toe hy voor ’n wit VW Golf ingery het.
Vandaar het hy afgejaag in Keiskammastraat, waar hy Rocky getref het in die pad tussen die Oppi Plaas kuierplek en die KFC ingang.

Die familie van Rocky het uitgehardloop nadat hulle die slag gehoor het en gesien hoe die silwer BMW stop, die bestuurder uitklim. Hy het egter net gekyk waar Rocky lê, in sy voertuig gespring en weggejaag.
Hy het in die rigting van die Vandyksdrifpad gejaag en alle verkeerstekens, waaronder stopstrate en verkeersligte geïgnoreer.
’n Polisie kombi, vol polisielede, het ook op die toneel gestop en gesê dat die BMW by hulle verby gejaag het. Hulle het hom egter nie probeer agterna sit nie, aangesien hul voertuig te stadig is.
Rocky se familie vra enige ooggetuies van die ongeluk of persone wat dalk inligting kan verskaf oor die BMW, soos ’n registrasienommer, om Ray (Rocky se broer) te bel by 076 752 9767.
