News

Gee hom sy daaglikse brood, toe steel bedelaar selfoon

’n Vrou het ’n bedelaar met ’n bos sleutels gegooi toe hy ’n selfoon in haar ma se woonstel gegryp het.

“Ek het die kers hoor val en toe ek omdraai, het ek in hom vasgeloop en gesien hoe hy my ma se selfoon in sy sak steek,” vertel Lydia van Vollenstee.

Haar ma, Lydia Aucamp, was omstreeks 12:40 vandag doenig in haar woonstel in Bhimy Damanestraat en het iemand by die hek hoor roep.

“Dit het geklink soos my susterskind en ek het die hek oopgedruk.”

Eers toe die jongman in die erf is en sy uitkyk by haar deur, het sy gesien dit is nie die persoon wie sy gedink het dit is nie.

“Hy het vir brood gevra en ek het vir hom ’n hele brood gegee. Hy het aanmekaar ook vir geld gevra, maar ek het vir hom gesê ek gaan net vir hom brood gee.”

Me. Aucamp moes op daardie tydstip vir mense ’n woonstel agter haar woonstel gaan wys en het haar dogter gevra om vir die jong man koffie te maak. Hy het op die stoep gesit en me. Van Vollenstee is die woonstel in om koffie vir hom te maak.

“Ek was besig om die koffie in ’n bottel te gooi, toe ek die kersie, wat voor my oorlede ouma se foto staan, hoor val.”

Met die omvliegslag het sy gesien hoe haar ma se selfoon in sy sak verdwyn.

“My seuntjie het op die bank gesit waar hy ingekom het en ek het die bos sleutels naaste aan my gegryp en die man gegooi.”

Dit het die bedelaar die skrik op die lyf gejaag, waarop hy die selfoon laat val en die hasepad gekies het by die deur uit.

Hulle het op noodgroepe ’n beskrywing van die dief gegee en HiSQ reaksiebeampte, Ruan Cloete, het dadelik gereageer.

“Ek was in die omgewing en het uitgekyk vir die man en die klerebeskrywing.”

In SADCstraat het hy die verdagte opgemerk, waar hy ’n winkeltrollie gestoot het. Mnr. Cloete het hom gearresteer en na me. Aucamp se huis geneem om hom te indentifiseer.

“Sy wou egter nie ’n saak maak nie en ek moes hom laat gaan,” sê mnr. Cloete.

Me. Aucamp sê sy het die jongman te jammer gekry om ’n saak te maak.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button