Entstof stop pokke in Middelburg
“In April 1893 het daar ’n ernstige pokke-epidemie in Johannesburg uitgebreek. Die siekte het spoedig deur die hele Transvaal versprei. In dieselfde jaar het die siekte ook in die Middelburg-distrik sy eerste slagoffer by Brugspruit geëis.
Landdros G.J.W. du Toit het dadelik stappe gedoen om die siekte die hoof te bied. Die probleem was dat daar geen entsof teen die siekte beskikbaar was nie.
In Johannesburg, waar die siekte toe reeds 80 slagoffers geëis het, is daar ’n pokkekomitee in die lewe geroep. Dit het gelei tot die aanstelling van Arnold Theiller met die spesifieke opdrag om ’n entstof te ontwikkel teen die siekte.
Binne ’n maand het hy die entstof aan die regering van die Z.A.R (Zuid-Afrikaanse Republiek) beskikbaar gestel, vir verspreiding na die landdroste van die geteisterde gebiede.
Landdros Du Toit het dadelik ’n gesondheisdskomitee in die lewe geroep vir die verskillende wyke op Middelburg. Die komitee het bestaan uit landdros Du Toit, O.C. Weeber, J.C.L. Coetzee en J.F. Vercuiel.
Hy het aan die komitee opdrag gegee om toe te sien dat elke persoon op die dorp ingëent word. Die effektiewe optrede van die landdros het verhoed dat die siekte in Middelburg en distrik versprei.”
’n Stukkie literatuur om aan die fanatiese teeninenters te bewys dat entstof al in die agttiende eeu op Middelburg versprei nadat dit binne ’n maand in Suid-Afrika ontwikkel is?
Om tong uit te steek met: “Sien julle entstof werk?”
Na almal op Middelburg ingëent is was dit die einde van pokke op die dorp en die staatsekretaris het nooit weer nuus daaroor uit die dorp ontvang nie.
Nou wat is jou storie dan?
Die inligting is vervat in ’n bundel wat Edward Green in 1986 voltooi het oor die geskiedenis van Middelburg (Transvaal en later Mpumalanga) tot 1902.
Dit was vir sy meestersgraad in geskiedenis aan die Vista Universiteit en die inligting is nie uit sy duim gesuig nie, maar nagevors. Hy het die werkstuk op 28 April 1987 aan oud burgemeester, Chris Esterhuizen, geskenk.
Mnr. Esterhuizen het die ongelooflik interessante stuk geskiedenis van Middelburg nou aan die OH Frewin Museum vir die Druk- en Gemeenskapspers geskenk.
Dit sal daar bewaar word, om leerlinge wat die geskiedenis van die dorp elke jaar as deel van hulle sillabus moet bestudeer, by te staan.
Die museum word eerskomende Sondag om 18:00 op die televisie program, Kwêla, gebeeldsend. Middelburg was in 2015 die Kwêla Dorp van die Jaar.
Lesers wat die museum wil besoek kan Tobie van den Bergh bel by 072 220 1568 of OH Frewin Drukkers en Uitgewers by 013 243 6660.

