News

Julle staak, dan betaal ons nie vir dienste wat nie gelewer word nie

Woede onder inwoners is op kookpunt weens die voortslepende munisipale staking wat nou al ’n maand lank duur.

Een groep inwoners, wat hul eie hulpbronne soos voertuie en brandstof gebruik om vullis weg te ry, het reeds meer as 80 ton se afval vullishope toe geneem “terwyl munisipale werkers sit en braai by die magasyn met groot glimlagte op hul gesigte.”

Inwoners vra tereg, wanneer word die moeilikheidmakers afgedank? Die munisipaliteit het reeds ’n interdik verkry teen die onwettige staking, maar stakers steur hulle nie daaraan nie.

Werkers dring daarop aan dat die munisipaliteit van ’n vlak 4 na ’n vlak 6 munisipaliteit opgradeer word. Dit beteken miljoene in salarisstygings wat deur die belastingbetalers van die dorp, wat ’n 98% betaalkoers vir dienste het, opgedok sal moet word.

Weens die voortslepende staking glo inwoners hulle gaan ook moet hoes vir die vergoeding van privaat diensverskaffers wat in die afwesigheid van munisipale werkers dienste soos water en elektrisiteitsonderbrekings hanteer.

As die munisipaliteit dink dat sy arbeidsmag, wat reeds ’n hofbevel ondermyn, gaan aanvaar dat hulle nie betaling gaan kry vir die dae wat die onwettige staking voortgeduur het nie, maak munisipale bestuurder Bheki Khenisa en burgemeester, Diphalal Motsepe, ’n baie groot fout.

Intussen voel inwoners hulle word deur beide die munisipaliteit en die stakende werkers gyselaar gehou, omdat hulle steeds moet betaal vir dienste, ten spyte van voortslepende onderbrekings.

Een onderneming wat meer as R15 000 per maand aan dienste betaal, sê hulle gaan beslis nie munisipale rekeninge vereffen vir dienste wat nie gelewer word nie.

Die situasie dreig om van Middelburg, een van die land se bes bestuurde munisipaliteite, ’n grap te maak.

“Daar is baie werklose mense wat maar te dankbaar sal wees om die munisipale werkers se poste oor te neem,” word op WhatsApp groepe gesê. En in ’n dorp waar werkloosheid een van die munisipaliteit se grootste kopsere is, is dit nou tyd om die kaf van die koring te skei, dring inwoners aan.

Intussen glo mnr. Khenisa dat daar Maandag tydens ’n vergadering met Mpumalanga premier, Refilwe Mtsweni-Tsipane, ’n ooreenkoms met die stakende werkers bereik sal word.

Hy sê dat indien die munisipaliteit die werkers summier afdank, “die dorp en munisipaliteit sal brand”.

Die werkers het reeds die 21-dae afwesigheidsperk oorskrei en is tans outomaties afgedank, “maar ons sal ’n balans moet vind om Middelburg stabiel uit hierdie situasie te bring”.

Mnr. Khenisa sê die vlak 6 graderingsversoek is problematies omdat werkers aandring op 36 maande se terugbetaling, sou die verhogings goedgekeur word.

“Daarom onderhandel ons met die werkers om te verstaan waar hulle aan hulle versoeke kom, hoe hulle berekeninge werk en waar hulle dink die geld vandaan moet kom.

“Inwoners moet asseblief verstaan dat kontrakte met privaat diensverskaffers se vergoeding tydens situasies soos hierdie, lankal geteken is en hulle dus nie op buitensporige vergoeding kan aandring nie, dit is juis waarom ons ook ’n kontrak vir vullisverwyderingstrokke wou inbring, wat ongelukkig die staking aan die gang gesit het,” verduidelik hy.

Hy het inwoners wat self inisiatief neem vir die opruim van die dorp bedank.

“Middelburg is ’n dorp wat saamstaan en altyd slegte situasies te bowe kom, dit is iets om op trots te wees,” sê mnr. Khenisa.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Gerhard Rheeder

I have been a journalist for two decades, with numerous awards to my credit, both in photography and writing. A brief stint as researcher in the opposition offices of the Mpumalanga Provincial Legislature, honed my skills as specialist local government reporter, covering crime and courts.
Back to top button