Pastei-moord: Na tien jaar steeds geen geregtigheid
Die wiel van geregtigheid draai brutaal stadig in Suid-Afrika vir slagoffers van misdaad, en hul families.
In sommige gevalle geskied geregtigheid nooit.
Dit is nie net die familie van die vermoorde Andrea Venter wat nege jaar gelede in Johannesburg vermoor is, wat gefrustreerd is met die ondersoek en regsprosesse nie.
In Middelburg sit die bedroefde suster van die vermoorde Wilma Viljoen, me. Audrey Keyser, nou al tien jaar en wag op geregtigheid nadat me. Viljoen in 2011 aan haar nek vasgebind aan ’n boom by Samekoms buite Middelburg gevind is.
Sy is na bewering deur Peter Lebitsa Mogadima met ’n vulstasie pastei vergiftig vir haar rooi Hyundai motor, haar enigste waardevolle besitting, waarin sy vir maande saam met haar kêrel Jaco Redelinghuys langs die Klein Olifantsrivier in Middelburg gewoon het.
Hy is ook aanvanklik vir haar moord aangekla maar is tans staagetuie teen Mogadima.

In me. Venter se geval het haar vermeende moordenaar, Gerhard Jansen van Vuuren, Brasilië toe gevlug, wat die saak vir jare opgehou het. In Mogadima se geval is hy aanvanklik op borg vrygelaat, maar het later sy hofverskynings ontduik en op die vlug geslaan.
Hy is intussen ook verbind met ’n tweede moord in Limpopo.
Hy is na die Limpopomoord in hegtenis geneem en steeds in aanhouding. Maar die polisie moes hom eers weer vastrek nadat hy tydens ’n verskyning vir die moord in Limpopo met ’n ander verhoorafwagtende se borgstrokie bloot uit die hof na sy vryheid gestap het.
Me. Keyser daag vir elke hofverskyning op, net om weer te hoor dat die saak uitgestel word omdat Redelinghuys, me. Viljoen se kêrel wat haar eers drie dae na haar verdwyning as vermis aangemeld het, nie die hofverrigtinge bywoon nie.
Hy pas tans karre op in Mbombela.
Me. Keyser het haar nou na Afriforum se privaatvervolgingseenheid gewend vir ingryping, uit vrees dat die saak nooit afgehandel sal kom, en Mogadima op die Middelburg moordklag gaan wegkom.
