Sekere areas steeds sonder water sê munisipaliteit
Die dorp se waterkrisis - behalwe vir inwoners in die Renosterstraat omgewing van Kanonkop en Dennesig en areas rondom Rockdale, Uitbreiding 5 en sommige Mhluzi areas - is voorlopig verby, nadat water kort na middernag die pype begin vul het.
Die hoogste dele van Kanonkop en Dennesig, teenaan die Kanonkop reservoir, sal egter later vandag ook weer water hê.
Water is van ’n ander hoogliggende area, Nasaret, na Kanonkop en Dennesig gepomp, nadat munisipale stakers gedurende Saterdagnag ’n klep op die Aerorand en Mhluzi hooftoevoerpyp gebreek het.
Die dorp se watertoevoer moes toe heeltemal afgesit word vir die pyp om herstel te word, en die klep is eindelaaste Sondagmiddag rondom 16:00 herstel. Maar Kanonkop en Dennesig inwoners wat sedert Vrydag heeltemal waterloos was, is aan die Nasaret lyn gekoppel sodat die Kanonkop reservoir kan vul.
As die areas aan die hooflyn gekoppel was, sou die Kanonkop reservoir eers na al die ander dele van die dorp vol getap het, en die woongebiede moontlik nog die week sonder water gewees het.
Inwoners met boorgate het tydens die krisis water aan honderde huishoudings voorsien terwyl Kanonkop DA, raadslid Helda de Klerk, Sondagmiddag vier munisipale watertenks gereël het wat by Tosca in Kanonkop en Saverite in Dennesig beskikbaar was.
Sy is deur raadslid Johan Dyason van Dennesig bygestaan in die poging.
Gemeenskapslede het opgeruk na die winkelsentrums om die trokke teen stakers te beskerm, terwyl sowat 40 lede van die onderskeie veiligheidsgroepe sleutelpunte sedert Sondag gepatrolleer het.
Veiligheidsgroepe het ook beskerming gebied aan kontrakteurs wat toenemend deur stakende munisipale werkers geïntimideer word.
Daar sal ook in die nabye toekoms gekyk word om die Witbankdam pyplyn, waar barste ook gerapporteer is, ook weer in werking te kry vir noodgevalle.
Munisipale woordvoerder, me. Prudence Magutle, sê dat spanne tans al die reservoirs besoek om vas te stel hoe vol hulle is, en of daar probleme is wat verhoed dat hulle voltap.
