Middelburg kan oor afgrond gestoot word as stakers slaag met geldeise
Die toekoms van Middelburg sal binne die volgende week bepaal word, met die burgemeesterskomitee wat vandag sit gevolg deur ’n spesiale raadsitting volgende week.
Die besluite wat vandag in die burgemeesterskomitee geneem word, sal in alle waarskynlikheid Dinsdag tydens ’n spesiale sitting bekragtig word. Die komitee het reeds gister met samesprekings begin.
Www.mobserver.co.za het vertroulik verneem dat die komitee nie gister tot ’n besluit kon kom nie.
Daar word sterk onder politieke rolspelers vermoed dat daar wel aan stakende munisipale werkers se eise voldoen gaan word, en dat die munisipaliteit van ’n vlak 4 tot vlak 5 munisipaliteit gelig sal word, wat miljoene se salarisverhogings en byvoordele vir munisipale amptenare beteken.
Die stakers dring ook op 35 maande se terugbetaling op die vlak 5 verhogings aan. Inmenging deur die provinsie sal bydra tot die besluit wat deur die raad bekragtig moet word.
Indien die munisipaliteit verhef word tot vlak 5, sal dit die dorp oor die afgrond na totale verval dwing.
Naas vullis wat die strate vol lê weens die staking, het dienste voor dit al verval met straatligte wat nie vervang word nie, verkeersligte wat nie werk nie, slaggate in die dorp se strate en parkies wat oorgroei is.
Voormalige burgemeester Mike Masina waarsku in die week se Middelburg Observer uitgawe, in ’n amptelike verklaring, dat die stadsraad en munisipaliteit “gekaap” word en dat mikrobestuur, die dorp se ondergang verspoedig.
Hy het hom sterk uitgespreek deur enige inmenging in die administrasie van die munisipaliteit deur politici.
Indien die burgemeesterskomitee toegee tot die stakers se eise, sal dit die komitee se laaste nalatenskap aan die dorp en sy mense wees omdat ’n nuwe burgemeester na 1 November se verskiesings, by raadslid Diphala Motsepe oorneem.
Die komitee sal ook verander met beide Motsepe en Mondli Kgalema wat reeds nie op die ANC stembriewe verskyn nie.
Na raming sal die vlak verheffing minstens ’n ekstra R100 miljoen jaarliks op die begroting vereis.
Daar hoef nie ver gesoek te word na konkrete bewyse dat die gedwonge vlakverheffing verwoestend vir die dorp sal wees nie, mens hoef net Suid-Wes te kyk na eMalahleni wat ’n vlak 5 munisipaliteit is, en met R5.5 miljard se Eskom elektrisiteitskuld sit.
eMalahleni gaan gebuk onder gebrekkige dienslewering met voortdurende water- en kragonderbrekings, om nie eens die paaie te noem nie.
Premier Refilwe Mtsweni-Tsipane het opdrag gegee dat onderhandelinge voortgesit word. Dit is duidelik dat sy politieke punte probeer behaal ten koste van Middelburg.
Dit is dom, want inwoners deur die spektrum, gaan hulle rug op die ANC keer, juis omdat sy die stakers gedienstig is wat toerusting saboteer en al vir vier weke kampeer, terwyl die dorp tot varkhok verval het.
Die DA het reeds met stakers vergader en sê onderhandelinge sal voortgesit word.
Die munisipaliteit sit tussen twee vure, naamlik die stakers en belastingbetalers. As diensfooie verhoog word, gaan beslastingbetalers in opstand kom, met groeiende oproepe dat diensfooie nie die maand betaal moet word nie, veral vullisheffings.
Inwoners voel ook stakers, wat van die stabielste en hoogste inkomstes het, byt die hand wat hulle voed, met hul buitensporige eise.
Stakers hou egter vol dat die munisipaliteit die geld het, en die munisipaliteit onmiddellik moet staak met die uitkontraktering van dienste, soos vullis, wat tot die staking gelei het.
Die munisipaliteit het weens die staking sy plan om vullisverwydering vir gebeurlikheidsplanne uit te kontrakteer, opgehef.
