News

Boer met spies aangeval

’n Boer is Sondag vir meer as twee ure deur ’n groep mense aangerand nadat hy een van hulle konfronteer het oor onwettige strukture op sy plaas.

“Terwyl hulle my slaan, het ek besef daar is ’n goeie kans dat ek vandag kan doodgaan.”

Danie Heyns (60) besit al vir 20 jaar ’n plaas uit op die Slaghoekpad langs die N11 (Groblersdalpad). Hy woon in Gauteng en kom naweke plaas toe.

Mnr. Heyns moes ’n paar jaar gelede ’n hofbevel bekom, toe daar skielik ’n huis op sy plaas gebou word deur ’n man wat ’n grondeis ingedien het. Die huis is deur die balju afgebreek en die hof het beveel dat daar nie verdere strukture gebou mag word nie.

Die dag na die huis afgebreek is, was daar ’n betoging op sy plaas en is een van sy rondawels aan die brand gesteek.

Mnr. Heyns is Sondagoggend na die plaasbewoner waarteen hy die hofbevel het, nadat hy opgemerk het dat daar weer strukture gebou word. Voor hy gegaan het, het hy die polisie ontbied, wat vir hom gesê het hulle is besig en eers later daar sal kan uitkom.

Hy het met die man waarteen die hofbevel uitgereik is gaan praat, om hom te waarsku dat sy optrede onwettig is.

“Ek wou foto’s en videos as bewyse neem.”

Die situasie het egter baie vinnig versleg en uitgeloop op ’n voorval van gepeupelgeweld waarin mnr. Heyns byna sy lewe verloor het.

Mnr. Heyns sê dat hy besig was om ’n video te neem terwyl hy met die man gepraat het. Die volgende oomblik het die man hom met ’n spies gestorm.

Hy kon daarin slaag om die spies af te neem maar die man hom toe met ’n hark stromgeloop.

In die proses het mnr. Heyns eers gewaarsku dat hy gaan skiet en daarna ’n waarskuwingskoot afgevuur. Hy het egter sy pistool verloor toe hy met die hark oor die kop geslaan is.

“Ek kon hom doodgeskiet het. Hy was twee meter van my af. Maar ek het nie,” vertel mnr. Heyns.

Mnr. Heyns sê dat hy deur drie mans aangehou is terwyl hulle gewag het vir nog mense om op te daag.

Daar was op die ouend ’n groot groep, wat hy skat tussen 15 en 20 mense was. Mnr. Heyns se blad is in die proses gebreek en hy is vasgebind en om die beurt deur groepe mense met knopkierries en ander voorwerpe aangerand.

’n Vrou het aanhoudend gegil “Bring die petrol en brand hom!” terwyl die ander haar toejuig. Daar is ook baie foto’s en videos van hom geneem.

“Ek het onophoudelik gebid. Mens kon die duisternis en die haat in hulle gesigte sien.”

Die polisie het na twee ure op die toneel opgedaag. Mnr. Heyns sê hy is nie seker of dit te danke aan sy oproep vroeër die oggend was en of iemand anders hulle gebel het nie.

Die polisie het die groep beveel om mnr. Heyns los te maak. Die vrou wat hom wou brand het hom hardhandig aan sy gebreekte blad rondgepluk om hom los te maak, terwyl die polisie toekyk.

Mnr. Heyns het die polisie ingelig dat hy ’n waarskuwingskoot afgevuur het en dat sy pistool en selfoon weg is. Die polisie kon sy pistool opspoor.

Die wapen is as bewysstuk gekonfiskeer. Hulle het sy selfoon by iemand in die groep gekry en aan hom terugbesorg.

Mnr. Heyns het vir hulle gesê dat hy mediese hulp nodig het, maar hulle het hom gevra om te wag tot die forensiese eenheid op die toneel was. Hy het hulle ingelig dat hy nie op daardie stadium instaat was om ’n verklaring af te lê nie.

“Ek was duiselig en deurmekaar. Ek het onder ’n boom gaan sit en wag.”

Toe mnr. Heyns se buurman, wat deur een van sy werkers ontbied is, op die toneel opdaag, het hy die polisie ingelig dat hy mnr. Heyns dadelik hospitaal toe gaan vat.

Hulle het eers by die plaashuis gestop en toe toevallig op die selfde tyd as die polisie in Middelburg ingery. Daar het mnr. Heyns gesien hoe hulle die man wat hom oorspronklik aangerand het, aflaai.

“Ek vermoed hulle het hom ’n geleentheid Middelburg toe gegee want hy bly in die dorp.”

Mnr. Heyns is by Life Midmed behandel vir sy wonde en later die aand ontslaan. Hy is na ’n ortopeut verwys vir sy gebreekte blad.

Hy het later ’n verklaring by sy prokureur afgelê en aan die polisie gestuur.

Mnr. Heyns sê dat hy al sowat 20 sake by die polisie gaan maak het, een daarvan was vir sy rondawel aan die brand gesteek is. Daar het tot dusver niks van meeste van sy klagtes gekom nie.

Hy is intussen ingelig dat daar ’n teenklag teen hom gelê is.

Hy sê dit voel asof die polisie nie meer geregtigheid laat seëvier nie.

“Die goeie ouens het nie meer ’n stem nie. Hulle luister eerder na kriminele se stemme.

“Een ding wat ek besef is iets wat ek êrens in ’n praatjie gehoor het. ’n Plaas of ’n besigheid is nie die strukture of die grond nie. Dit sit in ’n man se hart. En dit kan nooit van jou af weggevat word nie, want daar is passie en harde werk en ure se opoffering daarin.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button