Nagwag oorleef onderonsie met luiperd
'n Nagwag moes 200 steke in sy arms kry, nadat 'n luiperd hom aangeval het op 'n plaas in die Uyskraal-omgewing.
Dié voorval het omstreeks 06:10 plaasgevind, toe die nagwag, wat op versoek anoniem wil bly, sy nagskof voltooi het en op pad was na sy huis.
Volgens mnr. Arthur Roden, Life 24 Ambulansdienste, het die nagwag na sy huis gestap, toe hy ‘n geluid agter hom hoor. Hy het nie twee keer gedink nie en begin hardloop.
“Die luiperd het die nagwag aan die bout gebyt, en hy het op die grond geval. Hy is toe aan die arm gegryp. Die nagwag het die luiperd met sy hande probeer keer en erge beserings aan sy hande en arms opgedoen. Die luiperd het skielik gelos en die nagwag het weggehardloop en inmekaar gestort by die kampong, waarna hulp ontbied is.”
Die plaasbestuurder, wat ook anoniem wil bly, het Life 24 na die plaas ontbied.
“Dit is die laaste oproep wat jy verwag om te ontvang op ‘n Sondagoggend. Dit is een keer in ‘n leeftyd wat jy ontbied word vir ‘n luiperd-aanval, veral in ons omgewing,” sê mnr. Roden.
Die plaasbestuurder vermoed dat die nagwag en luiperd “toevallig” in mekaar vasgeloop het.
“Ons weet daar is luiperds in die koppies en berge van Uyskraal, maar het nog nooit een op die plaas gesien nie. Hul is gewoonlik in die koppies waar die bobbejane is. Ek het al die spore in die koppies opgemerk en vermoed dat daar byna 20 luiperds kan wees wat vrylik in dié area rondloop,” het die plaasbestuurder gesê.
Die nagwag is deur Life 24 na Groblersdal Hospitaal vervoer, waar hy 200 steke in sy arms en hande ontvang het. Hy is dieselfde dag nog ontslaan.
“Hy is baie gelukkig om te kon oorleef! Alhoewel ‘n luiperd nie sommer ‘n mens sal aanval nie, bly dit ‘n yslike dier,” sê die plaasbestuurder.
