Motorfietsryer vat meisie na matriekafskeid, ernstig beseer in ongeluk
’n Motorfietsryer wat ’n leerling van Hoërskool Middelburg met sy motorfiets na die matriekafskeid by die skool vervoer het, was in ’n ongeluk in Vosstraat betrokke.
Mnr. Speedy (John-Henry) Moss (33) word sedert Vrydagaand in die Life Midmed Hospitaal se intensiewe eenheid behandel, nadat hy ernstige beserings opgedoen het.
Sy vrou, Chantelle, sê sy toestand is kritiek en dat daar vandag met dialise begin word, omdat hy nou ook probleme met sy niere ondervind.
Nadat hy die meisie ingeneem het na die matriekafskeid, het hy teruggery na sy huis in Vosstraat.
“Speedy het die hele tyd agter my gery in Verdoornstraat en het kort voordat ons moes indraai in Vosstraat, by my verby gegaan. Die volgende oomblik het ek die slag gehoor en gedink hy het dalk geval oor die spoedwal.”

Die oomblik toe me. Moss oor die spoedwal ry, het sy ook byna in ’n bakkie, wat sonder ligte in die pad gestaan het, vasgery. Sy het gesien dat haar man se motorfiets die bakkie getref het en het uitgespring.
“Die kinders was by my in die voertuig en ek moes hulle kalm hou. Speedy was bewusteloos en ’n paar mense het op die toneel gehelp. Hulle en die paramedici was ongelooflik.”
Sy sê dat die ongeluk ’n blok en ’n half van hul huis af gebeur het en dat personeel van Van Wettens Insleepdienste hulle na die hospitaal vergesel het.

“Hulle het die paaie oral toegemaak sodat die ambulans en ek vinnig by die hospitaal kon uitkom.”
Mnr. Moss is by die Middok 24/7 Ongevalle Eenheid gestabiliseer en daarna in die intensiewe eenheid van Life Midmed opgeneem.
Me. Moss sê haar man het verskeie ernstige beserings en breuke opgedoen.
Sy linker- en regter oogbanke, asook sy neus en tande, is gebreek en sy tong is “middeldeur”.

Gebreekte ribbes het in sy long gesteek en hy is sedertdien gekoppel aan ’n ventilator, omdat hy nie self kan asemhaal nie. Verder het hy ’n skeur aan sy derm wat inwendige bloeding veroorsaak.
Sy regterarm se gewrig en duim is gebreek en alle aanduidings is dat ’n gedeelte van sy wysvinger geamputeer sal moet word.
Hy het ’n skeur in die regter bo-arm wat ’n aar affekteer en sy regter groottoon is ook gebreek.
Omdat sy toestand so kritiek is, kon hy tot op hede nie teater toe geneem word vir operasies nie.

•Hulle het nie ’n mediese fonds nie en sy behandeling kan meer as R300 000 beloop.
“Net die dialise alleen is R5 000 per keer en ons weet nie hoeveel keer hy dit moet kry nie.”
Persone wat die familie wil ondersteun, kan me. Moss bel of ’n WhatsApp stuur na 071 492 5599.
•Mnr. Moss het onlangs die Truimph motorfiets gekoop, met die idee om dit dadelik te ruil of te verkoop vir ’n klein karretjie.
“Hy was in die proses om die motorfiets te verkoop,” sê me. Moss.

