Reddingspanne begin na stapper in Drakensberge soek
Johann van Coller (32), ’n avonturier wat al gister by sy eindpunt in die Drakensberge verwag is, se ma het vanoggend ’n vermiste persoon saak geopen.
Me. Madelein de Villiers sê die laaste wat enigiemand met haar seun kontak gehad het, was op 18 Oktober by Witsieshoek. Daarna het niemand nog weer van hom gehoor nie.
“Persone wat die roete aanpak, word gewoonlik begelei. Omdat Johann egter so topfiks is, het hulle geen rede gesien om hom te begelei nie en hy het dit alleen aangepak. Die roete neem egter net tussen vyf en sewe dae en vandag is dit al agt dae.”
Sy is deur die reddingspan aangeraai om ’n vermiste persoon saak te open, sodat hulle op die roete na hom kan begin soek.
Me. De Villiers sê haar seun was nog altyd ’n “adrenalien junky” en het elke moontlike uitdaging van jongs af aangepak.
In 2018 was hy onder die top 10 in Riaan Manser se Odyssy Row uitdaag oor die Atlantiese Oseaan. Me. De Villiers sê daar was 15 000 inskrywings. “Hy het van Johannesburg na die Kaap geloop om daaraan deel te neem!”
Vroeg hierdie jaar het hy besluit om die pad vanaf Kaap Agulhas tot Kilimanjaro aan te pak.
“Tydens die onluste in Durban is hy beroof van al sy kamptoerusting, maar barmhartige samaritane het weer alles vir hom gekoop.”
Hy het al elke moontlike uitdaging aangepak van valskermspring tot roei en dan natuurlik staproetes.
Om aan die lewe te bly, doen hy oral los werkies, soos op plase, en dan vat hy weer die langpad. Daar is ook van hul familielede wat as borge optree.
Me. De Villiers is egter baie bekommerd omdat hy nog nie weer van hom laat hoor het nie.
As enigiemand hom moontlik op die roete raakgeloop het, word hulle gevra om haar dadelik te bel by 072 074 5394.
•Alhoewel me. De Villiers in Secunda bly, het sy haar vriendin, Esté Crocker, van Middelburg, gevra om die vermiste persone plakkaat oral te adverteer. Me. Crocker het www.mobserver.co.za gevra om dit so wyd as moontlik te versprei.
