News

Eers was dit net ’n graf – toe word dit ’n katarsis

Jong soldaat se sterwensoomblikke onthou

Eers was dit net ’n graf.
’n Graf in die heldeakker.
Op die grafsteen staan daar:
“Smit.
“Ons geliefde broer en seun
“Floris Cornelius.
“11-12-1962 24-08-1981.
“Vir ons die goeie herinnering sterf jy in troue ootmoet.
“Ons vir jou Suid-Afrika”.

Gravesite with a modern headstone labeled "SMIT." The grave is surrounded by fallen leaves, conveying a serene and contemplative autumn setting.
Floris Cornelius Smit het in Operasie Protea gesterf en is in die heldeakker begrawe. FOTO: Rudi van Wyk.

Toe word dit ’n katarsis.
’n Katarsis van oorlog.
Kameraadskap.
Van dood.
Veral van onthou.
Onthou ook van skutter Smit se laaste oomblikke, sy sterwensoomblikke.

Skryf iemand op sosiale media “laat die dooies met rus”.
Waarom sê ons dan by elke begrafnis “ons sal hom nooit vergeet nie?”

Floris Cornelius Smit is met militêre vertoon begrawe.
Offisiere het verklaar “ons sal hom nooit vergeet nie”.
Seker ook “ons sal hulle wat vir volk en vaderland die grootste offer gebring het, sal nooit vergeet word nie.”

Skutter Smit was vergete.
En toe word hy die afgelope week onthou…

Die soeke na die omstandighede van sy dood het oud grensoorlog soldate laat reageer.
’n Oproep uit die Paarl het veral die onthou oopgeruk.
Attie Roeloffze (66) het vertel.
Die man wat Floris Cornelius Smit (18) se hand vasgehou het, in sy sterwensoomblik.
“Dit is verskriklik traumaties, ek kry nou nog terugflitse van daardie oomblik,” sê Attie.

Hy is ’n oud hoofseun van Hoërskool Ermelo en die swaer van Middelburger Hein Koch. Getroud met Hein se suster, Ronel.
“Ons was deel van Veggroep Charlie wat saam met 32 Bataljon in die voorste groep was wat Xangongo in Angola aangeval het.”

Op 21 Augustus 1981 het die groot gevegsgroep op die grens saamgetrek by Oshakati en Oshivelo en die volgende dag oor die Angolese grens beweeg.
“Ons het om 10:00 die eerste kontak gemaak en begin veg.”
Luitenant Roeloffze, wat eers by Tuks graad gevang het, voordat hy met sy twee jaar diensplig begin het, het ’n boodskap gekry dat ’n mediese ordonnans of dokter se hulp benodig word.

Dit was 24 Augustus 1981.
“Ek is saam met vier troepe met ’n Buffel na die toneel. Terwyl ons daarheen gejaag het, is daar op ons geskiet.”
Skutter Smit was lid van 1 Suid-Afrikaanse Infanterie Bataljon, wat deel was van die “veespanne” saam met 1 Gemeganiseerde bataljon.
’n Diensplig dokter het ook by die gebou aangekom, waar skutter Smit beseer is.

Die kompanie bevelvoerder het almal van die gebou af weggekry, omdat daar gevrees is dat daar nog fopmyne was, voordat die dokter en lt Roeloffze na die beseerde soldaat is.
“Die kantore moes deur Russiese of Kubaanse soldate beman gewees het. Dit was baie netjies. Smit het daar ingegaan. Daar was ’n poeierblou kas. ’n Handgranaat was aan die binnekant van die kas geplaas, met sy slagpen so gestel, dat die handgranaat sou ontplof wanneer jy die kas oopmaak.”

Smit her erge skrapnelwonde opgedoen.
“Hy het nog gelewe maar kon nie praat nie.
“Ek het vir hom ’n traggiepyp ingesit.
“Vir hom suurstof gegee.
“Met hom gepraat en sy hand vasgehou.
“Vyftien minute later was hy dood.
“Ons het hom in ’n bodybag gesit.
“Die volgende dag het ’n Puma helikopter hom kom haal.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button