Stapper steeds weg wat in Drakensberge gaan stap het
Johann van Coller, die avonturier wat die staproepe in die Drakensberge aangepak en nooit by die eindpunt uitgekom het nie, is steeds nie gekry nie.
Sy ma, Madelein de Villiers, het pas bevestig dat hulle nie vir Johann gekry het nie.
Me. De Villiers sê sy sou so graag wou gaan help soek na haar seun, maar haar man is ernstig siek weens kanker.
Johann is op 18 Oktober by Witsieshoek gesien en nie weer daarna nie. Daar is wel plekke op die roete waar daar selfoonsein is, maar tot op hede kan hulle hom glad nie in die hande kry nie.
’n Man met die naam “Lucky” het me. De Villiers ook gister laat weet dat hy en ’n groep vriende gisteroggend weggespring het om saam met die reddingspanne te help soek.
Me. De Villiers sê dit gaan die stappers egter ten minste nog vier of vyf dae neem om uit te kom waar Johann dalk kan wees.
