Kiesers keelvol, woeste stryd verwag
’n Karnaval atmosfeer heers van vroeg vanoggend af by stembusse en dit is duidelik dat kiesers in groot getalle hulle kruisies gaan trek.
Behalwe vir die Laerskool C.R. Swart stempunt. wat eers ’n halfuur laat oopgemaak het, was die ander stempunte waar joernaliste van www.mobserver.co.za besoek afgelê het, almal slaggereed.
Lang toue kiesers het opgewonde gewag om hulle kruisies te trek.
Met die afgelope ses weke se munisipale staking, is dit duidelik dat inwoners keelvol is vir die wyse waarop die eens trotse munisipaliteit bestuur word. Talle gevalle van vandalisme, kragonderbrekings, waterkleppe wat vernietig is en ’n groot vullisdrom wat aan die brand gesteek is, is oor die naweek gerapporteer.
Inwoners is keelvol vir die toedrag van sake en veral omdat die dorp se leiers hande gevou staan en kyk hoe word Middelburg, wat in 2015 Dorp van die Jaar was, vernietig.
’n Woeste stryd word verwag tussen die DA, ANC, Vryheidsfront en die HMRF, die inwonersvereniging.
Dit gaan veral interessant wees om te sien hoe weeg die DA en Vryheidsfront teen mekaar op en hoe vaar Ben Mokoena se Hendrina and Middelburg Residents Front teen die African National Congress.
www.mobserver.co.za gaan lesers die volgende twee dae op hoogte hou hoe sake verloop en so gou as wat uitslae bekend word, dit publiseer.
