Mense het geregistreer, kan nie stem nie
Ten minste twee mense het by www.mobserver.co.za gekla dat hulle in September by Laerskool Kanonkop gaan registreer het, maar vanoggend was hul name nie op die lys nie.
•Me. Mariaan Hough sê sy en haar man, Johan, bly al ses jaar in Blesbokstraat en het ingegaan om te registreer.
“Daar was ’n lys van seker 200 mense se name op wat met die hand geskryf was toe ons gaan registreer het. Toe ons vanoggend daar was, was daar net ’n lys met sowat 10 geskrewe name op en ons was skielik nie meer op die lys nie! Ons was 06:30 al daar om vroeg te stem, want ek moet vandag na my kleinkind kyk. Ons kon dus nie stem nie. Iets is fout!”

•Mnr. en me. Gerhard en Ella Nell was net so kwaad. Hulle het ook ingegaan om te registreer om by Laerskool Kanonkop te kan stem toe die registrasies oop was.
“Ons het in Gauteng gebly en is die afgelope meer as ’n jaar in Middelburg waar ons in Kanariestraat bly. Toe ons vanoggend wil stem, toe is ons name skielik nie meer op die lys nie. Nou sê hulle ons moet in Gauteng gaan stem! Die korrupte ANC beheer die OVK!” het hy kwaad uitgeroep.
Beide paartjies het die SMS’e gewys wat hulle gekry het nadat hulle gaan registreer het.
•Mnr. Sam Weller, wat in die ry gestaan het by Laerskool Kanonkop, het saam met vele mense in die rye hul misnoeë uitgespreek omdat hul rye so stadig vorder.
“Ek was 07:45 hier en dit is nou 09:45. Ek is nog nie naby die ingang van die saal om te stem nie. Dit sal interessant wees om te weet hoeveel mense het gestem in hierdie twee ure. As ek so moet skat na aanleiding van die ry, het net 25 in twee ure gestem!”

Hy het geen probleem daarmee dat bejaardes eerste gehelp word nie, maar hy sê daar is net twee of drie bejaardes wat van agter in die ry na voor geneem is.
•Daar is vir die joernalis gesê dat daar tussen 07:00-08:00 ’n totaal van 53 mense by dié stemlokaal gestem het.
•By die stemtent in Dennesig het dit blitsig gegaan en het 80 mense tussen 07:00-08:00 gestem.
•Die stemlokaal by Hoërskool Kanonkop het net tussen 07:00-07:30 reeds 49 stemmers deurgedraf.

